Sunday, 26 July 2015
PGCE#TeachingPrac#2015_Reflection_week 1_20 July-24 July_Schoonspruit Secondary School
Schoonspruit Sekondere Skool te Malmesbury, gelee binne die hartjie van die Swartland, se missie is volhard en oorwin. As ek terug kyk na my eerste week van my onderwysprakties, dan besef ek weereens dat ek 'n groot liefde het vir leerders en om hul te motiveer om hardwerkend en toegewyd te wees tot hul studies. Ek het baie onseker gevoel op my eerste dag, maar terselfde tyd positief en angstig. Ek het hoe verwagtinge gestel teenoor die opvoeders en die bestuur van die skool, maar inteendeel, was ons soos mede-kollegas ontvang en hanteer en nie soos proef-studente nie. Dit het 'n positiewe impak gehad op hoe ek die leerders in die klaskamer benader het en dit het ook my taak vergemaklik in die aanbieding van my kurrikulum vakke. Daar was ook ander proef-studente van CPUT wellington en Mowbray. Ons is altesaam 20 proef-studente. Die eerste dag het elke kampus se studente hul eie groepies gemaak en afsonderlik gesit en gesels. Dit het my baie ongemaklik laat voel, aangesien almal net mekaar aankyk en niemand 'n woord praat nie, maar weens die aangename verwelkoming vanaf die skool, het die ongemaklikheid verdwyn onder die studente en van dag 2 ruil ons studiemateriaal, handboeke en moontlike lesse onder mekaar uit. Ek dink dat elke proef-student het besef dat ons almal vir dieselfde doel daar is, ongeag dat ons van verskillende kampus en/of universiteite is. Ek neem ook waar dat die skool dissiplinere probleme ondervind. Soos ek agterkom en verneem van ander opvoeders, kom meestal van hierdie leerders uit minderbevooregte huishoudings waar sommiges se ouers nie teenwoordig is in hul lewens nie. Dit kan dalk bydrae tot die destruktiewe gedrag wat leerders toon. Ek het geleer dat hierdie leerders versigtig hanteer moet word en dat ek as opvoeder hul omstandighede moet verstaan om hul as individu te verstaan. Die skool het op hierdie stadium 'n tekort aan administratiewe personeel gehad, maar die skoolhoof het 'n tydelike reel in plek gestel dat sekere proef-studente die rol as sekretaresse moes vervul, onder andere was ek een van hulle. Woensdag, 22 Julie 2015 het ek die administratiewe pligte nagekom. Ek het 'n begrip wat die rol van 'n sekretaresse is, maar na my ervaring het ek 'n dieper begrip oor die verantwoordelikheid wat gepaard gaan met sekretariele werk. Ek het besef dat die administratiewe afdeling van die skool en die opvoeders speel 'n gesamentlike rol in die funksionering van 'n leerder se opvoeding. Deel van my pligte was die volgende:
1. Ek moes 'n toestemmingsbrief rig aan die plaaslike kliniek om 'n leerder so gou as moontlik van hulp te wees.
2. Ek het die skool se busdiens stelsel vir 2016 opgestel.
3. Ek het ook telefoniese navrae hanteer asook fotostate vir die opvoeders gedoen.
As 'n sekretaresse, het ek my goeie komunikasie- en rekenaarvaardighede toegepas wat my in staat gestel het om my pligte korrek as moontlik uit te voer. Wat positief was, is dat die bestuurspan beindruk was met die administratiewe rol wat ek vervul het. Die negatiewe aspek was dat ek nie georienteer was ten opsigte van die verskillende toerusting van die skool soos die fotostaat- en faksmasjien nie, m.a.w. toerusting wat kodes vereis waarvan ek nie blootstelling voorheen gehad het nie.
Alreeds in my eerste week het leerders my benader om vir hulle ekstra klasse vir Fisiese Wetenskap aan te bied na skool. Dit was vir my 'n riem onder die hart en 'n groot inspirasie in my loopbaan. Dit was vir my verbasend dat die gr. 10 en 11 Fisiese Wetenskap leerders meer interaksie getoon het as die gr. 12 leerders. Tydens my observering in Wiskundige Geletterdheid, neem ek waar dat leerders baie onverantwoordelik is teenoor die vak. Die leerders is baie laks en my opinie is dat leerders hierdie vak onderskat. Die Junie maand uitslae was aan my gekomunikeer en dit was kommerwekend. Dit gaan wel harde werk kos, maar ek is vol vertroue dat ek beter resultate sal bewerkstellig tydens my tydperk by die skool en dat ek met tyd die probleemareas in Wiskundige Geletterdheid sal oorbrug soos ek meer ervaring opdoen. Vanaf dag 1 het ek baie selfvertroue gehandhaaf en ek het van dag 2 klas gegee vir die Fisiese Wetenskap klasse van gr. 10-12. Dit was vir my aangenaam om klas te gee vir hulle, aangesien die leerders respek getoon het en deelgeneem het aan die klasgesprekke. Sommige leerders was baie verlore en verward, maar ek het spesiale aandag aan hulle geskenk en dit het my goed laat voel toe ek agterkom dat hulle die werk nou verstaan. Na afloop van die klasse wat ek aangebied het hierdie week, is beperkte tyd een van my vrese. Alhoewel dit vir my voel dat ek alreeds 'n onderwyser is, vrees ek dat ek nie die werk in 'n bepaalde tyd sal kan voltooi nie en of alle leerders tevrede sal wees nie wanneer ek werklik 'n opvoeder is.
My hoogtepunt van week 1 was die sportdag teen Hoerskool Vredenburg. Saterdag, 25 Julie om 06:15 het die busse vertrek na Vredenburg. Die leerders was verskriklik opgewonde, ek self was en dit was 'n gedoente om hul rustig te kry. Ek was in beheer van die 0.14 en 0.15 netbalspanne, aangesien hul afrigter nie die sportdag kon bywoon weens persoonlike verpligtinge nie. Ek kon my skeidsregter kwalifikasie toepas en het as netbal skeidsregter opgetree vir hierdie twee spanne. Die wen was 'n bonus, maar die leerders se sportgees was vir my kenmerkend. Ek kon aan hul gesigte sien dat hul moeg is, maar as opvoeder het dit my gekos om hul moed in te praat en hulle het nooit opgegee nie. Dit was net AMAZING vir my! Hoe al die spanne mekaar ondersteun en elke speler hul hart uitgespeel het. Dit het my net laat terug verlang na my skooldae en toe ek my weer kom kry, sing ek saam die leerders ter ondersteuning vir die 0.19A-span. Ek het net goeie herinneringe van hierdie dag, want elke oomblik was vir my lekker met my mede-kollegas en die leerders.
Ek is verskriklik opgewonde oor onderwys as 'n professie. Ek wil regtig 'n verskil maak in my vakgebied en die probleemareas wat leerders huidiglik ervaar, aan te spreek. Op hierdie stadium verskil uitdagings van gemeenskap tot gemeenskap, skool tot skool en leerder tot leerder, maar ek is vergewis dat ek met mettertyd dit sal kan oorbrug, want in elke beroep is daar maar uitdagings. My entoesiasme is my hoop in onderwys as beroep.
Subscribe to:
Posts (Atom)