Wednesday, 26 August 2015

PGCE#TeachingPrac#2015_Reflection_week 5_17 August - 21 August_Schoonspruit Secondary School

Ek voel alreeds of ek in die skoene van 'n voltydse permanente opvoeder staan. As ek terug kyk na dag 1, kan ek waarlik se dat ek myself goed aanpasbaar gemaak het in die konteks waarin ek myself bevind en voel ek dat ek deel uitmaak van die skool se opvoeders. Aan die begin van my internskap het ek die tydperk om gewens, maar nou loop die tyd bietjie te vinnig na my sin en wil ek nie he dit moet tot 'n einde kom nie. Die leerders maak elke dag die moeite werd en jy sal dit net verstaan as jy dit self ervaar. Die liefde wat jy as opvoeder ontwikkel vir jou klasse en die ander leerders is onbeskryflik. My passie vir onderwys as professie het baie verdiep vandat ek in die praktyk is. Ek was angstig, verlore en het nie geweet wat om te verwag nie, maar nou weet ek onderwys is die beste opsie ooit wat enige een kan kies as professie. Die respek wat leerders ontwikkel vir jou as opvoeder, die feit dat daar na jou opgekyk word en na jou uitgereik word as 'n ondersteuningsmeganisme maak onderwys genotvol bo jou verwagtinge wat jy eers vir jouself geskep het. Na 5 weke by Schoonspruit Sekondere skool, het ek min of meer 'n idee wat die rol van 'n opvoeder behels. Hiermee verwys ek na al die administratiewe pligte wat gepaard gaan met onderwys. Na afloop van hierdie week het ek besef dat die rol van die opvoeder nie net akademies gerig moet wees nie, maar ook moet fokus op die sielkundige en sosiologiese aspekte van onderrig. Ek het dit eerstehands ervaar toe een van die leerders se ouer my inlig oor die huislike omstandighede van die leerder. Dit was weereens 'n bewys dat die leerders se persoonlike omstandighede 'n bydrae lewer tot hul gedrag binne die klaskamer. Ek vind dit baie oorweldigend dat ek alreeds tydens my internskap in aanraking kom met die sielkundige en sosiologiese probleme van leerders. Terselfde tyd leer ek hoe om die sosiologiese uitdagings in die gesig te staar binne 'n akademiese instansie en weet ek nou watter prosedures om te volg in die toekoms. Alhoewel onderwys sy positiewe punte het, ontstaan die negatiwiteit ook. Hierdie week het 'n leerder uit een van my gunsteling klasse my verskriklik geirriteer. Daar was konstant onderlangse geluide gemaak, maar ek het dit geignoreer. Ek was eintlik bang om haar aan te spreek weens haar arrogante houding wat sy daagliks teen oor haar eie opvoeder toon. Ek dink sy het probeer reaksie uitlok om te kyk hoe ek sal optree as sy my gaan irriteer. Ek het probeer kalm bly die hele periode lank alhoewel dit hier binne my gekook het. Ek besef ook dat 'n leerder moet aangespreek word indien hy/sy die klas ontwrig ongeag hoe die leerder daarop sal reageer en of dit haar persepsie oor my as opvoeder gaan verander. Ek dink my grootste vrees is dat ek nie skade wil doen aan die goeie verhoudings wat ek saam die leerders gebou het nie. Dit wil voorkom of die dissipline van die graad 10 Wiskundige Geletterdheid klasse by die dag vererger. Alhoewel die leerders ontwrigtende gedrag toon tydens klas, gee ek nog steeds om vir hulle. Ek is eintlik baie meer lief vir hulle as al die ander klasse, omdat al die opvoeders van hulle kla en negatief posisioneer in die skool. Alhoewel hierdie klasse dissiplinere probleme toon, het elkeen van hulle groot respek vir my en dit waardeer ek. Die hoogtepunt van hierdie week was die matriekafskeid. Vir die eerste keer na my eie matriekafskeid in 2010, het ek die matriekafskeid van Schoonspruit Sekondere skool as 'n opvoeder bygewoon. Dit was interdaad 'n ander gevoel, want vandag sit ek om die tafel met dieselfde mense wat eens op 'n tyd my opvoeders was. Dit is vir die ander opvoeders 'n riem onder die hart om te sien hoe ons as proef-studente belangstelling toon in die sosiale aangeleenthede van die skool asook betrokke is by buitemuurse aktiwiteite en nie net daar is vir ons eie akademiese doeleindes nie. Ek het terug verlang na my matriek-jaar en sosiale aangeleenthede soos die matriekafskeid en kultuuraande is wat ek die meeste verlang van my skooldae. Ek het waargeneem dat die matriekulante baie onrustig was tydens die toesprake en dit is kommerwekkend om te sien hoe vroeg die leerders die matriekafskeid verlaat om te gaan kuier ("afterparty" te hou). Uit die oogpunt van 'n opvoeder, dink ek dat die matriekafskeid is 'n mors van geld en dat 'n gradeplegtigheid in plek daarvan ingestel moet word.

Saturday, 15 August 2015

PGCE#TeachingPrac#2015_Reflection_week 4_11 August-14 August_Schoonspruit Secondary School

"Time flies when you having fun". Vier weke van my onderwys internskap te Schoonspruit Sekondere Skool is al verby en ek het elke oomblik geniet tot so ver. Alhoewel ek nog net n gedeeltelike gevoel het van wat onderwys behels, sien ek uit na die voltydse toepassing van onderwys as professie. Hierdie week het ek my derde les vir Wiskundige Geletterdheid aangebied. Hierdie keer het ek n gr. 12 klas gekies om my les aan te bied. Weereens het ek waargeneem dat die gr. 12 Wiskundige Geletterdheid leerders beter dissipline handhaaf as die gr. 10's en 11's. Ek het meer in beheer gevoel en kon beter klas-kontrole toepas as in my vorige aanbieding. Ek het dit makliker gevind om met die graad 10's te kommunikeer as met die graad 12's, maar dit was moeiliker om die graad 10's gefokus te kry. Die graad 12's oefen selfdissipline uit, terwyl die graad 10's nog gedissiplineer moet word. Tydens die aanbieding van my les het ek besef dat dit belangrik is dat jy as opvoeder moet seker maak dat die leerders verstaan wat van hulle verwag word, dat hulle die vrae van die aktiwiteit verstaan asook die konsepte wat na vore kom in die aktiwiteit. Ek het verwag dat leerders nie die aktiwiteit sal verstaan en voltooi nie, maar die teenoorgestelde het gebeur na afloop van die les. Die leerders kon die aktiwiteit baas raak met n bietjie leiding van my. Ek was so trots op hulle daardie oomblik. Ek dink elke opvoeder moet dit vir homself/haarself beleef wanneer n leerder jou bo jou verwagtinge verras. Dit laat jou hart en gesig blom. Ek het ook opgelet dat 2 seuns se aandag afleibaar is, alhoewel hulle eerste klaar was met die aktiwiteit. Nadat ek self-ondersoek ingestel het, kom ek tot die gevolgtrekking dat daar nooit verwagtinge tydens n les geskep moet word nie, maar altyd voorsienning gemaak word vir leerders wat vinniger werk as die ander leerders om hul ten alle tye gefokus te he. Ek het ook besef hoe belangrik dit is om aktiwiteite op te stel na gelang van die groeppotensiaal en nie net altyd wat die KABV verwag van die groep nie. Ek self neem waar dat daar enorme vordering in my lesaanbiedings is. Ek het verbeter op die toepassing van klas-kontrole. Ek het nie net aanvaar leerders weet als wat hul veronderstel is om te weet nie, maar ek het eers seker gemaak leerders is bekend met die wiskundige konsepte wat in die aktiwiteit voorgekom het. Die klein getal leerders in die klas het n voordelige uitwerking gehad op my aanbieding van my les en ek kon individuele aandag gee binne groepsverband en die probleemareas vinniger aanspreek. My betrokkenheid by die skoolkoor maak nie meer deel uit van die verpligte buitemuurse aktiwiteite nie, maar omdat ek dit baie geniet. Ek oefen saam die leerders en luister na probleemareas, maar mees belangriker, ek bou verhoudings op met die leerders wat ek nie elke dag in kontak kom nie. Ek begin leer hul ken op n meer persoonlike vlak. Ek kom agter dat jy leerders beter hanteer indien jy hul op n meer persoonlike vlak ken en leerders respekteer n opvoeder meer as die opvoeder belangstelling toon in die leerder. Die gevoel was oorweldigend, maar tog vol blydskap toe n leerder vir my se dat ek vir haar soos n tweede ma is. Ek is so jonk en n leerder sien my as n ma-figuur, dan kan jy mos nie help om net meer lief te word vir hulle nie. Ek moet byvoeg dat ek baie van hierdie leerders jammer kry, want baie opvoeders posisioneer die leerders in n negatiewe lig a.g.v. hul ontwrigtende gedrag, maar eintlik verlang hul net aandag en iemand wat omgee. Aan die ander kant voel ek dat die graad 10 Fisiese Wetenskap klasse bietjie te gemaklik raak met my, maar hul het nog steeds soveel baie respek vir my. Die leerders begin vat kanse as hul opvoeder nie teenwoordig is nie en ek die klasse moet waarneem. Ek het beheer oor hierdie klas, ongeag die groot getal leerders in die klas, en ek wens dat my Wiskundige Geletterdheid graad 10 klasse ook net so kan luister as ek met hulle praat. Hierdie leerders het selfdissipline en vra onverskoning as ek hul optrede aanspreek. Ek vind dat die graad 10 klasse baie aandag verlang en soms jou reaksie uitlok om aandag te verkry. Ek het geleer dat dissiplinere probleme nie n faktor sal wees indien jy n verhouding bou met die leerders waar hul sien dat jy omgee nie en net die beste vir hul wil voorsit nie. Laastens voel ek dat ek nie baie uitgedaag word met vrae nie. Leerders vra weinig vrae wat verband hou met die werk in die praktyk of industrie. Vir die eerste keer hierdie week het n leerder vir my n vraag gevra waarop ek die antwoord nie weet nie. Ek het dit met alle eerlikheid hanteer en leerders laat verstaan dat ek weet nie als nie. Hulle was verbaas op my antwoord en ek dink die leerders kon by my leer dat dit okay is as jy nie verstaan nie, dat dit okay is as jy nie weet nie. Ek dink ook nie dat hul my as onbevoegd sien nie, maar dat hulle meer besef het dat ek ook in n leerproses is. Ek kon dus die tablet gebruik binne die klaskamer en die antwoord op die vraag gaan opsoek en vir die leerders n beter verduideliking gee oor die onderwerp wat self onbekend aan my is. Weereens was dit vir my n bewys dat as opvoeder kan ek self baie van leerders leer en nie net anderste om nie. Ekt besef dat ek ten alle tye die lewe en die skool as instansie as n leerproses moet sien eerder as n opvoeder wat die bron van inligting is. Ek sluit af dat ek baie wysheid op doen soos ek elke dag met kinders in interaksie kom, sommige dae het meer uitdagings as ander, maar die tydperk kan n fees wees as jy altyd die positiewe in die negatiewe sien.

Tuesday, 11 August 2015

PGCE#TeachingPrac#2015_Reflection_week 3_3 August-7 August_Schoonspruit Secondary School

Soos dit landswyd bekend is dat die week van 3 Augustus tot 8 Augustus 2015 Nasionale Wetenskap week is,het die Fisiese Wetenskap en Lewenswetenskap leerders van Schoonspruit Sekondere skool ook nasionale wetenskap week ervaar by die skool. Maandag, 3 Augustus 2015, het ek en die Fisiese Wetenskap onderwyser die huidige werk prakties ondersoek. Ons het eers gefokus op die graad 10's en hul is tans besig met magnetisme. Nadat die opvoeder die inhoud van magnetisme behandel het, het ons fisies gaan kyk hoe die magneetveldlyne lyk van gelyksoortige en ongelyksoortige pole. Die leerders was gefasineerd deur die praktiese ondersoek en het baie vrae gehad betrekking tot die ondersoek en hoe dit verband hou met die teorie. Dit was duidelik dat die praktiese ondersoek die leerders se gedagtes geprikkel het en hul belangstelling in die teorie van magnetisme verhoog het. Na afloop van die praktiese ondersoek en die leerders se houding teenoor die werk nadat hulle self waargeneem het hoe magneetveldlyne lyk, dink ek dis n goeie idee om die teorie prakties voor te stel. Ek het waargeneem dit het n positiewe uitwerking op leerders se houding teenoor die inhoud daarvan en dit verdiep hul belangstelling. As toekomstige opvoeders moet ons in gedagte hou dat leerders leer verskillend, so dis beter om verskillende onderwysmetodes toe te pas om elke leerder se leerbehoeftes te akkomodeer. Dit het duidelik na vore gekom tydens hierdie praktiese ondersoek. Die negatiewe aspek hiervan is dat die skool nie altyd die geriewe het om die inhoud prakties voor te stel nie en as opvoeder beperk dit jou om die teorie doeltreffend te fasiliteer. Die ander nadeel is dat dit baie tydgedrewe is en die KABV streng toegepaste tyd voorskryf aan elke onderwerp. Dus, is daar nie altyd tyd om eksperimente uit te voer, terwyl dit grootendeels leerders se begrip verdiep. Dit was vir my kenmerkend hoe leerders weer die teorie gaan op lees het. Ek hou daarvan hoe die opvoeder ander vakke se inhoud soos Aardrykskunde en Biologie by die inhoud van Fisiese Wetenskap aansluit en alledaagse voorbeelde gebruik om die konsepte van chemie uit te lig. Ek dink dit sal vir my n uitdaging wees in die praktyk, alhoewel ek my inhoud ken, is ek nie baie bekend met die toepassing daarvan nie. Ek besef dat ek baie moet gaan op lees oor die toepassing van chemie in die praktyk, veral dit wat betrekking het op die vereiste inhoud in die KABV. Hierdie praktiese ondersoeke help leerders vaardighede aanleer soos die gebruik en lees van n kompas. Ek het ook toesig gehou in n juffrou se plek wat afwesig was en wat vakke aanbied buite my kurrikulumvakke/veld. Ek was toe verplig om die graad 10 Lewenswetenskap klasse waar te neem. Alhoewel ek in die diep kant gegooi was, kon ek my biologie kennis toepas om hierdie les waar te neem. Soos ek voorheen genoem het, neem ek waar dat die skool meestal dissiplinere probleme ondervind by die graad 10's. Dit is vir my onaangenaam om hierdie klasse waar te neem, want die leerders praat onophoudelik en luister nie as daar met hulle gepraat word nie. Dis eintlik hartseer dat ek dit nie geniet om die graad 10's klas te gee nie, aangesien ek aan die begin van die proeftydperk baie van hulle gehou het en goed oor die weg gekom het en hulle die meeste interaksie getoon het met my en die leerstof as die graad 11's en 12's. Nou is die posisies omgeruil en die graad 11 en 12 klasse toon beter interaksie en ek bou goeie verhoudings met hierdie klasse. Ek voel nog steeds asof ek nie die graad 10's kan beheer nie, maar slegs die wiskundige geletterdheid klasse. Die Fisiese Wetenskap klasse is te oulik en ekt n groot liefde ontwikkel vir hierdie klasse (van graad 10-12). Nie dat ek die ander graad 10 Wiskundige Geletterdheid klasse nie lief het nie, maar ek raak moedeloos. Die graad 10's hou van persoonlike vrae vra en gesels oor dinge wat niks verband hou met die leerstof nie. Ek voel dat ek moet begin ferm wees met die leerders, maar wys ek gee om terselfde tyd. Ek besef ek moet my manier van klas gee verander, aangesien ek te vriendelik is teenoor die leerders. Alhoewel ek moedeloos is, hou ek nie op om die graad 10's te motiveer en te bemoedig nie. Ek besef dat dit vir my n uitdaging gaan wees om leerders met dissiplinere probleme aan te spreek, alhoewel ek nog nie die outoriteit het om die skool se gedragsmaatreels toe te pas nie. Hierdie proeftydperk sien ek nie net as n leergeleentheid nie, maar dit voel alreeds of ek al my professie as onderwyser beoefen. Ek geniet dit vreeslik ongeag die uitdagings soos leerderdissipline en die swak slaagsyfer. Dit gee my die moed om n verskil te maak en n motivering vir ander te wees. Die buitemuurse aktiwiteite laat my verlang na my skooldae. Ek mis dit om koor te sing en om betrokke te wees by die skoolkoor gee my meer perspektief oor leerders se gedrag binne die klaskamer en buite die klaskamer en hoe dit in strook staan met mekaar. Tydens kooroefening is die verhouding tussen my en die leerders meer informeel, terwyl dit tydens skooltye bietjie meer formeel is. Hiermee wil ek byvoeg dat ek elke dag sien as n tweede kans. Met ander woorde, as n leerder ontwrigtende gedrag toon, gaan ek nie die leerder kenmerk in n negatiewe lig nie, maar elke dag n nuwe kans gee. Dis wat ek huidiglik waarneem onder die opvoeders. As n leerder net eendag ontwrigtende gedrag toon, word daardie leerder gekenmerk in n negatiewe lig. My omgee vir leerders verdwyn nie ongeag hulle gedrag. My hart het oorgeloop van blydskap toe n leerder, wat ontwrigtende gedrag toon, vir my se dat ek vir haar soos n tweede ma is. Dis snaaks hoe baie leerders van jou as opvoeder dink en hoe hoog hul jou ag as jy hulle hanteer met die regte houding. Vrydag, 7 Augustus 2015, was die hoogepunt van my week. Ek moes die gr. 10 Fisiese Wetenskap klas, 1 gr. 11 leerder en een gr. 12 leerder vergesel na die Nasionale Wetenskap vasvrae kompetisie te Moorreesburg. Omtrent 15 hoerskole in die Weskus Distrik omgewing het aan die Wetenskap vasvrae kompetisie deelgeneem. Alhoewel Schoonspruit Sekondere Skool nie onder die top 3 skole geeindig het nie, was ek trots om te sien dat ons die skool was met die meeste ondersteuning. Die leerders het hul puik gedra en dit was vir my n riem onder die hart om te sien hoe baie leerders in Fisiese Wetenskap belangstel. Meeste van hierdie leerders het n visie vir die toekoms en dit maak my bly en ek besef dis hierdie klein dingetjies wat onderwys die moeite werd maak. Soos tyd verloop begin ek hierdie professie al hoe meer waardeer. Nadat die Wetenskap aangeleentheid klaar was, het ek in n restaurant saam die leerders gaan sit. Die een leerder het vir hom kos bestel, terwyl hy weet hy het nie genoeg geld nie. Nadat hy klaar geeet het, het hy my kom vra vir geld en om hom uit te help. Ek het dit eintlik baie snaaks gevind daardie moment, maar dan besef ek die leerder is so gemaklik om na my toe te kom en vir my te vra om hom uit te help, maar aan die anderkant kan hy net sowel dit tot sy voordeel gebruik. Nietemin, ek vind berusting daarin om ander te help, aangesien ek nie altyd bewus is van die leerders se huislike omstandighede nie. Met tyd raak ek al hoe meer opgewonde om n opvoeder te wees, daar is so baie leerders wat ek wil help en wil bystaan. Ek was nog altyd lief vir kinders, ekt net nooit besef hulle sal so diep in my hart kruip nie.

Sunday, 2 August 2015

PGCE#TeachingPrac#2015_Reflection_week 2_27 July-31 July_Schoonspruit Secondary School

Hierdie week het ek my eerste formele krit les vir Wiskundige Geletterdheid en Fisiese Wetenskap aangebied. Ek het die aanbieding van my les vir Wiskundige Geletterdheid baie geniet. Die dissipline van leerders was al probleem wat ek teegekom het tydens my aanbieding. Die aanbieding van die les het direk na eerste pouse geskied. Leerders het onophoudelik gepraat en ek moes eers hul fokus op my rig. Ek het dit gedoen deur te praat oor die naweek se sportdag en rugbywedstryd tussen die Springbokke en All Blacks. Die seuns kon terugvoering gee oor die spel en het deelgeneem aan die gesprek, terwyl die meisies nie kon saam gesels oor rugby nie, maar darm kennis neem van die uitslae. Ek het die gesprek oor rugby so kort as moontlik gehou en dit by my les laat aansluit. Die negatiewe aspek van my aanbieding was die tyd. Die periodes is slegs 45 minute lank en die leerders neem 15 minute om by die klaskamer uit te kom. Dit is oor die algemeen ‘n probleem in die skool. Dit blyk asof die opvoeders self nie beheer het oor die leerders se laatkomery nie. Dit beteken jy het ± 30 minute om jou les aan te bied. Ek besef dat ek beter klaskontrole moet toepas deur leerders se aandag gevestig te kry voor ek met die aanbieding van my les begin en nie net begin met die aanbieding van my les nie. Ek het een les aan twee graad 10 Wiskundige Geletterdheid klasse aangebied. Die twee lesse was direk agter mekaar en die opvoeder kon tydens die tweede les sien dat ek moeg en uitgeput is. Die uitdagings wat ek in die gesig staar, is dat hierdie klasse verskriklik groot is; ongeveer 40 leerders in ‘n klas. Ek het dit moeilik gevind om beheer uit te oefen, want almal vra vrae op dieselfde tyd. Beide graad 10 Wiskundige Geletterdheid klasse kon die aktiwiteite met gemak uitvoer en het dit nie moeilik gevind nie, maar hul aandag is baie afleibaar. Hulle gesels meer as wat hulle werk en ekt so magteloos gevoel. Ek was baie moedeloos tydens die tweede aanbieding van my les, want toe is my bekommernis dat ek nie die uitkomste van my lesbeplanning in ‘n bepaalde tyd sal bereik nie en dat ek nie almal sal kan help op dieselfde tyd nie. Ek dink moontlike oplossings kan wees om leerders in groepverband te laat werk en dan die instruksies in groepverband verduidelik, maar dan het ek ook waargeneem dat leerders beter werk individueel as in groepverband. Die opvoeder laat ook alle aktiwiteite en tutoriale individueel voltooi. Leerders is nou baie meer gemakliker met my, want hulle begin persoonlike vrae vra en geselsies aanknoop met my wat niks verband hou met die inhoud van die werk nie. Die Wiskundige Geletterdheid klasse het so ‘n traak-my-nie houding en maak grappies die hele periode deur. As ‘n toekomstige opvoeder, is ek bekommerd oor die houding wat leerders toon teenoor hierdie vak. Ek was vol entoesiasme, maar ek begin alreeds negatief voel wanneer ek die Wiskundige Geletterdheid klasse moet observeer. Die leerders se dissipline speel grootliks ‘n rol in die ontwikkeling van my negatiewe houding teenoor die waarneming van die Wiskundige Geletterdheid klasse. Hiermee se ek nie dat ek ‘n negatiewe houding ontwikkel teenoor die vak nie, slegs teenoor die leerders se dissipline. Terselfde tyd leer ek hoe om leerders te behandel met ‘n tekort aan dissipline. Ek neem waar dat dit beter is om leerders aan te spreek met jou oe en lyftaal eerder as om op hulle te skel. Dis belangrik om ten alle tye leerders met respek aan te spreek en dit op ‘n mooi manier te doen, andersins gaan jy dissiplinere probleme ondervind. Tydens my aanbieding het ek ook besef dat my woordeskat bo die verwagtinge van die leerders is. Ek moes aan graad 10 leerders verduidelik wat die woord vanselfsprekend beteken. Ek het verwag dat ‘n graad 10 leerder bewus sal wees van die betekenis asook van die gebruik van die woord in konteks. Dit was vir my moeilik om in Afrikaans te verduidelik sodat die betekenis duidelik uitgelig word, maar ek het my toe in Engels uitgedruk sodat leerders dit makliker kon verstaan. Dit het my weereens laat besef om eenvoudige woordeskat te gebruik binne die klaskamer; op ‘n vlak dat elke leerder sal verstaan. Ek verstaan nou wat ons in Engelsmedium geleer het oor hoekom dit belangrik is dat leerders geletterdheid geleer word in alle vakke en nie net in tale nie en waarom hulle woordeskat binne elke vak bevorder moet word. Die wil voorkom dat die leerders wat Fisiese Wetenskap as ‘n vak het, baie meer ernstig is oor hul skoolwerk en beter dissipline handhaaf. Die leerders luister as met hulle gepraat word en hulle voer die opvoeder se opdragte spoedig uit. My eerste aanbieding vir Fisiese Wetenskap was vir die graad 11 klas. Wat vir my positief was, was dat ek kon onmiddelik identifiseer wie sukkel met die aktiwiteit wat ek aan hul gegee het en wie kon dit met gemak klaarmaak. Anders as die graad 10 Wiskundige Geletterdheid klas, het ek beter beheer oor die leerders en voel ek in beheer van die klas. Hierdie klas was baie entoesiasties en het goed interaksie getoon met die aktiwiteit wat ek aan hul voorsien het. Ek het baie goeie verhoudinge gebou met hierdie klas binne die eerste twee weke van my proeftydperk. Die leerders voel so gemaklik met my en deel hul toekomsplanne saam my. Dit is ‘n riem onder die hart vir my en terselfde tyd kan ek hul net verder motiveer. Dit voel goed om woorde te hoor soos: “Juffrou gaan mos vir ons help om ‘n A-simbool te kry”. Die graad 10 en 11 Fisiese Wetenskap klasse is baie gewillige leerders. Altyd vol moed om te werk en my opdragte/aktiwiteite uit te voer. Dis aangenaam om hierdie klasse waar te neem en les te gee. Tydens my aanbieding was ek bietjie senuweeagtig en die leerders kon dit maklik optel. Ek dink het energie aan hulle oorgedra, want die leerders het nie baie vrae gevra nie, maar net aandagtig geluister. Ek het die spanning verlig om vrae aan die klas te stel, waarvan enige een kon antwoord. Ek neem waar dat meisies meer gewillig is om te antwoord as seuns. Ek tref geen onderskeid tussen meisies en seuns nie, maar die meerderheid van die leerders werk saam in groepe met leerders van hul eie geslag. Leerders het in hulle gemak sone getree nadat die aktiwiteit aan hulle uitgedeel is en het lekker interaksie getoon met die leerstof. Na afloop van my les, besef ek dat ek moet meer fokus op die strategiee om wetenskap aan te bied. Ek moet ook fokus om meer inligting aan leerders te gee en te verduidelik eerder as om meer tyd te spandeer op die toets van voorkennis. Ek was verbaas dat leerders die aktiwiteit kon uitvoer en was trots op hulle. Tyd was weereens ‘n probleem. Meeste het nie klaar gekry met die aktiwiteit nie, maar ek het dit toe laat voltooi vir huiswerk. Ek het verwag dat ek nie my uitkomste binne ‘n bepaalde tyd sal bereik nie, maar sommige leerders het my regtig verras. Die groot klasse is vir my ‘n uitdaging en hoe om klaskontrole te handhaaf in hierdie groot klasse. My grootste fout wat ek maak is dat ek aanvaar dat leerders ken die werk wat ek met hul behandel. Daarom is dit belangrik om te toets of leerders die vorige dag se werk kan toepas en ken. Ek neig om baie stadig te werk wat ‘n nadeel vir my gaan wees in my professie. Ek moet beter onderrig strategiee toepas sodat ek elke leerder se leerbehoeftes bevredig en die tempo waarteen hulle werk. Ek geniet dit om betrokke te wees by al wat ‘n buitemuurse aktiwiteit is. Hierdie week het ek kooroefening bygewoon en ek vind dat leerders die liedjies maar verveeld vind. Ek het ook gehelp met probleem areas, aangesien ek ook koor gesing het. Minder as die helfte leerders het vir kooroefening opgedaag en dit blyk dat seuns nie belangstel nie. Ongeag die destruktiewe gedrag wat leerders toon, kruip elke leerder in my hart. Ek is lief vir een en elkeen van hulle; dis hulle wat onderwys as professie die moeite werd maak. Meeste van die tye vertel hulle grappies net sodat ek kan lag en om reaksie by my uit te lok. Ek vind dit baie kostelik. Ek glo dat ek ‘n motivering vir leerders sal wees en sal werk aan die negatiewe aspekte van my praktiese ondervinding. Laastens wil ek almal bedank vir die positiewe kommentaar en motivering.