Tuesday, 11 August 2015
PGCE#TeachingPrac#2015_Reflection_week 3_3 August-7 August_Schoonspruit Secondary School
Soos dit landswyd bekend is dat die week van 3 Augustus tot 8 Augustus 2015 Nasionale Wetenskap week is,het die Fisiese Wetenskap en Lewenswetenskap leerders van Schoonspruit Sekondere skool ook nasionale wetenskap week ervaar by die skool. Maandag, 3 Augustus 2015, het ek en die Fisiese Wetenskap onderwyser die huidige werk prakties ondersoek. Ons het eers gefokus op die graad 10's en hul is tans besig met magnetisme. Nadat die opvoeder die inhoud van magnetisme behandel het, het ons fisies gaan kyk hoe die magneetveldlyne lyk van gelyksoortige en ongelyksoortige pole. Die leerders was gefasineerd deur die praktiese ondersoek en het baie vrae gehad betrekking tot die ondersoek en hoe dit verband hou met die teorie. Dit was duidelik dat die praktiese ondersoek die leerders se gedagtes geprikkel het en hul belangstelling in die teorie van magnetisme verhoog het. Na afloop van die praktiese ondersoek en die leerders se houding teenoor die werk nadat hulle self waargeneem het hoe magneetveldlyne lyk, dink ek dis n goeie idee om die teorie prakties voor te stel. Ek het waargeneem dit het n positiewe uitwerking op leerders se houding teenoor die inhoud daarvan en dit verdiep hul belangstelling. As toekomstige opvoeders moet ons in gedagte hou dat leerders leer verskillend, so dis beter om verskillende onderwysmetodes toe te pas om elke leerder se leerbehoeftes te akkomodeer. Dit het duidelik na vore gekom tydens hierdie praktiese ondersoek. Die negatiewe aspek hiervan is dat die skool nie altyd die geriewe het om die inhoud prakties voor te stel nie en as opvoeder beperk dit jou om die teorie doeltreffend te fasiliteer. Die ander nadeel is dat dit baie tydgedrewe is en die KABV streng toegepaste tyd voorskryf aan elke onderwerp. Dus, is daar nie altyd tyd om eksperimente uit te voer, terwyl dit grootendeels leerders se begrip verdiep. Dit was vir my kenmerkend hoe leerders weer die teorie gaan op lees het. Ek hou daarvan hoe die opvoeder ander vakke se inhoud soos Aardrykskunde en Biologie by die inhoud van Fisiese Wetenskap aansluit en alledaagse voorbeelde gebruik om die konsepte van chemie uit te lig. Ek dink dit sal vir my n uitdaging wees in die praktyk, alhoewel ek my inhoud ken, is ek nie baie bekend met die toepassing daarvan nie. Ek besef dat ek baie moet gaan op lees oor die toepassing van chemie in die praktyk, veral dit wat betrekking het op die vereiste inhoud in die KABV. Hierdie praktiese ondersoeke help leerders vaardighede aanleer soos die gebruik en lees van n kompas.
Ek het ook toesig gehou in n juffrou se plek wat afwesig was en wat vakke aanbied buite my kurrikulumvakke/veld. Ek was toe verplig om die graad 10 Lewenswetenskap klasse waar te neem. Alhoewel ek in die diep kant gegooi was, kon ek my biologie kennis toepas om hierdie les waar te neem. Soos ek voorheen genoem het, neem ek waar dat die skool meestal dissiplinere probleme ondervind by die graad 10's. Dit is vir my onaangenaam om hierdie klasse waar te neem, want die leerders praat onophoudelik en luister nie as daar met hulle gepraat word nie. Dis eintlik hartseer dat ek dit nie geniet om die graad 10's klas te gee nie, aangesien ek aan die begin van die proeftydperk baie van hulle gehou het en goed oor die weg gekom het en hulle die meeste interaksie getoon het met my en die leerstof as die graad 11's en 12's. Nou is die posisies omgeruil en die graad 11 en 12 klasse toon beter interaksie en ek bou goeie verhoudings met hierdie klasse. Ek voel nog steeds asof ek nie die graad 10's kan beheer nie, maar slegs die wiskundige geletterdheid klasse. Die Fisiese Wetenskap klasse is te oulik en ekt n groot liefde ontwikkel vir hierdie klasse (van graad 10-12). Nie dat ek die ander graad 10 Wiskundige Geletterdheid klasse nie lief het nie, maar ek raak moedeloos. Die graad 10's hou van persoonlike vrae vra en gesels oor dinge wat niks verband hou met die leerstof nie. Ek voel dat ek moet begin ferm wees met die leerders, maar wys ek gee om terselfde tyd. Ek besef ek moet my manier van klas gee verander, aangesien ek te vriendelik is teenoor die leerders. Alhoewel ek moedeloos is, hou ek nie op om die graad 10's te motiveer en te bemoedig nie. Ek besef dat dit vir my n uitdaging gaan wees om leerders met dissiplinere probleme aan te spreek, alhoewel ek nog nie die outoriteit het om die skool se gedragsmaatreels toe te pas nie. Hierdie proeftydperk sien ek nie net as n leergeleentheid nie, maar dit voel alreeds of ek al my professie as onderwyser beoefen. Ek geniet dit vreeslik ongeag die uitdagings soos leerderdissipline en die swak slaagsyfer. Dit gee my die moed om n verskil te maak en n motivering vir ander te wees.
Die buitemuurse aktiwiteite laat my verlang na my skooldae. Ek mis dit om koor te sing en om betrokke te wees by die skoolkoor gee my meer perspektief oor leerders se gedrag binne die klaskamer en buite die klaskamer en hoe dit in strook staan met mekaar. Tydens kooroefening is die verhouding tussen my en die leerders meer informeel, terwyl dit tydens skooltye bietjie meer formeel is. Hiermee wil ek byvoeg dat ek elke dag sien as n tweede kans. Met ander woorde, as n leerder ontwrigtende gedrag toon, gaan ek nie die leerder kenmerk in n negatiewe lig nie, maar elke dag n nuwe kans gee. Dis wat ek huidiglik waarneem onder die opvoeders. As n leerder net eendag ontwrigtende gedrag toon, word daardie leerder gekenmerk in n negatiewe lig. My omgee vir leerders verdwyn nie ongeag hulle gedrag. My hart het oorgeloop van blydskap toe n leerder, wat ontwrigtende gedrag toon, vir my se dat ek vir haar soos n tweede ma is. Dis snaaks hoe baie leerders van jou as opvoeder dink en hoe hoog hul jou ag as jy hulle hanteer met die regte houding.
Vrydag, 7 Augustus 2015, was die hoogepunt van my week. Ek moes die gr. 10 Fisiese Wetenskap klas, 1 gr. 11 leerder en een gr. 12 leerder vergesel na die Nasionale Wetenskap vasvrae kompetisie te Moorreesburg. Omtrent 15 hoerskole in die Weskus Distrik omgewing het aan die Wetenskap vasvrae kompetisie deelgeneem. Alhoewel Schoonspruit Sekondere Skool nie onder die top 3 skole geeindig het nie, was ek trots om te sien dat ons die skool was met die meeste ondersteuning. Die leerders het hul puik gedra en dit was vir my n riem onder die hart om te sien hoe baie leerders in Fisiese Wetenskap belangstel. Meeste van hierdie leerders het n visie vir die toekoms en dit maak my bly en ek besef dis hierdie klein dingetjies wat onderwys die moeite werd maak. Soos tyd verloop begin ek hierdie professie al hoe meer waardeer. Nadat die Wetenskap aangeleentheid klaar was, het ek in n restaurant saam die leerders gaan sit. Die een leerder het vir hom kos bestel, terwyl hy weet hy het nie genoeg geld nie. Nadat hy klaar geeet het, het hy my kom vra vir geld en om hom uit te help. Ek het dit eintlik baie snaaks gevind daardie moment, maar dan besef ek die leerder is so gemaklik om na my toe te kom en vir my te vra om hom uit te help, maar aan die anderkant kan hy net sowel dit tot sy voordeel gebruik. Nietemin, ek vind berusting daarin om ander te help, aangesien ek nie altyd bewus is van die leerders se huislike omstandighede nie. Met tyd raak ek al hoe meer opgewonde om n opvoeder te wees, daar is so baie leerders wat ek wil help en wil bystaan. Ek was nog altyd lief vir kinders, ekt net nooit besef hulle sal so diep in my hart kruip nie.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment