Wednesday, 26 August 2015

PGCE#TeachingPrac#2015_Reflection_week 5_17 August - 21 August_Schoonspruit Secondary School

Ek voel alreeds of ek in die skoene van 'n voltydse permanente opvoeder staan. As ek terug kyk na dag 1, kan ek waarlik se dat ek myself goed aanpasbaar gemaak het in die konteks waarin ek myself bevind en voel ek dat ek deel uitmaak van die skool se opvoeders. Aan die begin van my internskap het ek die tydperk om gewens, maar nou loop die tyd bietjie te vinnig na my sin en wil ek nie he dit moet tot 'n einde kom nie. Die leerders maak elke dag die moeite werd en jy sal dit net verstaan as jy dit self ervaar. Die liefde wat jy as opvoeder ontwikkel vir jou klasse en die ander leerders is onbeskryflik. My passie vir onderwys as professie het baie verdiep vandat ek in die praktyk is. Ek was angstig, verlore en het nie geweet wat om te verwag nie, maar nou weet ek onderwys is die beste opsie ooit wat enige een kan kies as professie. Die respek wat leerders ontwikkel vir jou as opvoeder, die feit dat daar na jou opgekyk word en na jou uitgereik word as 'n ondersteuningsmeganisme maak onderwys genotvol bo jou verwagtinge wat jy eers vir jouself geskep het. Na 5 weke by Schoonspruit Sekondere skool, het ek min of meer 'n idee wat die rol van 'n opvoeder behels. Hiermee verwys ek na al die administratiewe pligte wat gepaard gaan met onderwys. Na afloop van hierdie week het ek besef dat die rol van die opvoeder nie net akademies gerig moet wees nie, maar ook moet fokus op die sielkundige en sosiologiese aspekte van onderrig. Ek het dit eerstehands ervaar toe een van die leerders se ouer my inlig oor die huislike omstandighede van die leerder. Dit was weereens 'n bewys dat die leerders se persoonlike omstandighede 'n bydrae lewer tot hul gedrag binne die klaskamer. Ek vind dit baie oorweldigend dat ek alreeds tydens my internskap in aanraking kom met die sielkundige en sosiologiese probleme van leerders. Terselfde tyd leer ek hoe om die sosiologiese uitdagings in die gesig te staar binne 'n akademiese instansie en weet ek nou watter prosedures om te volg in die toekoms. Alhoewel onderwys sy positiewe punte het, ontstaan die negatiwiteit ook. Hierdie week het 'n leerder uit een van my gunsteling klasse my verskriklik geirriteer. Daar was konstant onderlangse geluide gemaak, maar ek het dit geignoreer. Ek was eintlik bang om haar aan te spreek weens haar arrogante houding wat sy daagliks teen oor haar eie opvoeder toon. Ek dink sy het probeer reaksie uitlok om te kyk hoe ek sal optree as sy my gaan irriteer. Ek het probeer kalm bly die hele periode lank alhoewel dit hier binne my gekook het. Ek besef ook dat 'n leerder moet aangespreek word indien hy/sy die klas ontwrig ongeag hoe die leerder daarop sal reageer en of dit haar persepsie oor my as opvoeder gaan verander. Ek dink my grootste vrees is dat ek nie skade wil doen aan die goeie verhoudings wat ek saam die leerders gebou het nie. Dit wil voorkom of die dissipline van die graad 10 Wiskundige Geletterdheid klasse by die dag vererger. Alhoewel die leerders ontwrigtende gedrag toon tydens klas, gee ek nog steeds om vir hulle. Ek is eintlik baie meer lief vir hulle as al die ander klasse, omdat al die opvoeders van hulle kla en negatief posisioneer in die skool. Alhoewel hierdie klasse dissiplinere probleme toon, het elkeen van hulle groot respek vir my en dit waardeer ek. Die hoogtepunt van hierdie week was die matriekafskeid. Vir die eerste keer na my eie matriekafskeid in 2010, het ek die matriekafskeid van Schoonspruit Sekondere skool as 'n opvoeder bygewoon. Dit was interdaad 'n ander gevoel, want vandag sit ek om die tafel met dieselfde mense wat eens op 'n tyd my opvoeders was. Dit is vir die ander opvoeders 'n riem onder die hart om te sien hoe ons as proef-studente belangstelling toon in die sosiale aangeleenthede van die skool asook betrokke is by buitemuurse aktiwiteite en nie net daar is vir ons eie akademiese doeleindes nie. Ek het terug verlang na my matriek-jaar en sosiale aangeleenthede soos die matriekafskeid en kultuuraande is wat ek die meeste verlang van my skooldae. Ek het waargeneem dat die matriekulante baie onrustig was tydens die toesprake en dit is kommerwekkend om te sien hoe vroeg die leerders die matriekafskeid verlaat om te gaan kuier ("afterparty" te hou). Uit die oogpunt van 'n opvoeder, dink ek dat die matriekafskeid is 'n mors van geld en dat 'n gradeplegtigheid in plek daarvan ingestel moet word.

1 comment:

  1. I can fully agree with your opening, the learners have became a part of my every day life already. I go home every night and have so many stories to tell my family, that they are tired of me speaking so much.

    You have certainly gained a lot of experience at the school that you are attending. At my school, the learners are close to us student teachers, but we do not interact with parents, only the learners.

    But I do agree that we deal with the sociological and psychological aspects of the learners on a daily basis according to the way they act in the classrooms.

    But, geluk met die laaste drie weke :)

    ReplyDelete