Sunday, 2 August 2015
PGCE#TeachingPrac#2015_Reflection_week 2_27 July-31 July_Schoonspruit Secondary School
Hierdie week het ek my eerste formele krit les vir Wiskundige Geletterdheid en Fisiese Wetenskap aangebied. Ek het die aanbieding van my les vir Wiskundige Geletterdheid baie geniet. Die dissipline van leerders was al probleem wat ek teegekom het tydens my aanbieding. Die aanbieding van die les het direk na eerste pouse geskied. Leerders het onophoudelik gepraat en ek moes eers hul fokus op my rig. Ek het dit gedoen deur te praat oor die naweek se sportdag en rugbywedstryd tussen die Springbokke en All Blacks. Die seuns kon terugvoering gee oor die spel en het deelgeneem aan die gesprek, terwyl die meisies nie kon saam gesels oor rugby nie, maar darm kennis neem van die uitslae. Ek het die gesprek oor rugby so kort as moontlik gehou en dit by my les laat aansluit. Die negatiewe aspek van my aanbieding was die tyd. Die periodes is slegs 45 minute lank en die leerders neem 15 minute om by die klaskamer uit te kom. Dit is oor die algemeen ‘n probleem in die skool. Dit blyk asof die opvoeders self nie beheer het oor die leerders se laatkomery nie. Dit beteken jy het ± 30 minute om jou les aan te bied. Ek besef dat ek beter klaskontrole moet toepas deur leerders se aandag gevestig te kry voor ek met die aanbieding van my les begin en nie net begin met die aanbieding van my les nie. Ek het een les aan twee graad 10 Wiskundige Geletterdheid klasse aangebied. Die twee lesse was direk agter mekaar en die opvoeder kon tydens die tweede les sien dat ek moeg en uitgeput is. Die uitdagings wat ek in die gesig staar, is dat hierdie klasse verskriklik groot is; ongeveer 40 leerders in ‘n klas. Ek het dit moeilik gevind om beheer uit te oefen, want almal vra vrae op dieselfde tyd. Beide graad 10 Wiskundige Geletterdheid klasse kon die aktiwiteite met gemak uitvoer en het dit nie moeilik gevind nie, maar hul aandag is baie afleibaar. Hulle gesels meer as wat hulle werk en ekt so magteloos gevoel. Ek was baie moedeloos tydens die tweede aanbieding van my les, want toe is my bekommernis dat ek nie die uitkomste van my lesbeplanning in ‘n bepaalde tyd sal bereik nie en dat ek nie almal sal kan help op dieselfde tyd nie. Ek dink moontlike oplossings kan wees om leerders in groepverband te laat werk en dan die instruksies in groepverband verduidelik, maar dan het ek ook waargeneem dat leerders beter werk individueel as in groepverband. Die opvoeder laat ook alle aktiwiteite en tutoriale individueel voltooi. Leerders is nou baie meer gemakliker met my, want hulle begin persoonlike vrae vra en geselsies aanknoop met my wat niks verband hou met die inhoud van die werk nie. Die Wiskundige Geletterdheid klasse het so ‘n traak-my-nie houding en maak grappies die hele periode deur. As ‘n toekomstige opvoeder, is ek bekommerd oor die houding wat leerders toon teenoor hierdie vak. Ek was vol entoesiasme, maar ek begin alreeds negatief voel wanneer ek die Wiskundige Geletterdheid klasse moet observeer. Die leerders se dissipline speel grootliks ‘n rol in die ontwikkeling van my negatiewe houding teenoor die waarneming van die Wiskundige Geletterdheid klasse. Hiermee se ek nie dat ek ‘n negatiewe houding ontwikkel teenoor die vak nie, slegs teenoor die leerders se dissipline. Terselfde tyd leer ek hoe om leerders te behandel met ‘n tekort aan dissipline. Ek neem waar dat dit beter is om leerders aan te spreek met jou oe en lyftaal eerder as om op hulle te skel. Dis belangrik om ten alle tye leerders met respek aan te spreek en dit op ‘n mooi manier te doen, andersins gaan jy dissiplinere probleme ondervind.
Tydens my aanbieding het ek ook besef dat my woordeskat bo die verwagtinge van die leerders is. Ek moes aan graad 10 leerders verduidelik wat die woord vanselfsprekend beteken. Ek het verwag dat ‘n graad 10 leerder bewus sal wees van die betekenis asook van die gebruik van die woord in konteks. Dit was vir my moeilik om in Afrikaans te verduidelik sodat die betekenis duidelik uitgelig word, maar ek het my toe in Engels uitgedruk sodat leerders dit makliker kon verstaan. Dit het my weereens laat besef om eenvoudige woordeskat te gebruik binne die klaskamer; op ‘n vlak dat elke leerder sal verstaan. Ek verstaan nou wat ons in Engelsmedium geleer het oor hoekom dit belangrik is dat leerders geletterdheid geleer word in alle vakke en nie net in tale nie en waarom hulle woordeskat binne elke vak bevorder moet word.
Die wil voorkom dat die leerders wat Fisiese Wetenskap as ‘n vak het, baie meer ernstig is oor hul skoolwerk en beter dissipline handhaaf. Die leerders luister as met hulle gepraat word en hulle voer die opvoeder se opdragte spoedig uit. My eerste aanbieding vir Fisiese Wetenskap was vir die graad 11 klas. Wat vir my positief was, was dat ek kon onmiddelik identifiseer wie sukkel met die aktiwiteit wat ek aan hul gegee het en wie kon dit met gemak klaarmaak. Anders as die graad 10 Wiskundige Geletterdheid klas, het ek beter beheer oor die leerders en voel ek in beheer van die klas. Hierdie klas was baie entoesiasties en het goed interaksie getoon met die aktiwiteit wat ek aan hul voorsien het. Ek het baie goeie verhoudinge gebou met hierdie klas binne die eerste twee weke van my proeftydperk. Die leerders voel so gemaklik met my en deel hul toekomsplanne saam my. Dit is ‘n riem onder die hart vir my en terselfde tyd kan ek hul net verder motiveer. Dit voel goed om woorde te hoor soos: “Juffrou gaan mos vir ons help om ‘n A-simbool te kry”. Die graad 10 en 11 Fisiese Wetenskap klasse is baie gewillige leerders. Altyd vol moed om te werk en my opdragte/aktiwiteite uit te voer. Dis aangenaam om hierdie klasse waar te neem en les te gee. Tydens my aanbieding was ek bietjie senuweeagtig en die leerders kon dit maklik optel. Ek dink het energie aan hulle oorgedra, want die leerders het nie baie vrae gevra nie, maar net aandagtig geluister. Ek het die spanning verlig om vrae aan die klas te stel, waarvan enige een kon antwoord. Ek neem waar dat meisies meer gewillig is om te antwoord as seuns. Ek tref geen onderskeid tussen meisies en seuns nie, maar die meerderheid van die leerders werk saam in groepe met leerders van hul eie geslag. Leerders het in hulle gemak sone getree nadat die aktiwiteit aan hulle uitgedeel is en het lekker interaksie getoon met die leerstof. Na afloop van my les, besef ek dat ek moet meer fokus op die strategiee om wetenskap aan te bied. Ek moet ook fokus om meer inligting aan leerders te gee en te verduidelik eerder as om meer tyd te spandeer op die toets van voorkennis. Ek was verbaas dat leerders die aktiwiteit kon uitvoer en was trots op hulle. Tyd was weereens ‘n probleem. Meeste het nie klaar gekry met die aktiwiteit nie, maar ek het dit toe laat voltooi vir huiswerk. Ek het verwag dat ek nie my uitkomste binne ‘n bepaalde tyd sal bereik nie, maar sommige leerders het my regtig verras. Die groot klasse is vir my ‘n uitdaging en hoe om klaskontrole te handhaaf in hierdie groot klasse. My grootste fout wat ek maak is dat ek aanvaar dat leerders ken die werk wat ek met hul behandel. Daarom is dit belangrik om te toets of leerders die vorige dag se werk kan toepas en ken. Ek neig om baie stadig te werk wat ‘n nadeel vir my gaan wees in my professie. Ek moet beter onderrig strategiee toepas sodat ek elke leerder se leerbehoeftes bevredig en die tempo waarteen hulle werk.
Ek geniet dit om betrokke te wees by al wat ‘n buitemuurse aktiwiteit is. Hierdie week het ek kooroefening bygewoon en ek vind dat leerders die liedjies maar verveeld vind. Ek het ook gehelp met probleem areas, aangesien ek ook koor gesing het. Minder as die helfte leerders het vir kooroefening opgedaag en dit blyk dat seuns nie belangstel nie.
Ongeag die destruktiewe gedrag wat leerders toon, kruip elke leerder in my hart. Ek is lief vir een en elkeen van hulle; dis hulle wat onderwys as professie die moeite werd maak. Meeste van die tye vertel hulle grappies net sodat ek kan lag en om reaksie by my uit te lok. Ek vind dit baie kostelik. Ek glo dat ek ‘n motivering vir leerders sal wees en sal werk aan die negatiewe aspekte van my praktiese ondervinding. Laastens wil ek almal bedank vir die positiewe kommentaar en motivering.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Ek verstaan die uitdagings wat jy ervaar maar alte goed. Ek ondervind self ook baie van daardie selfde uitdagings by die skool waar ek is. Dit is maklik om soms moed te verloor en dit is ook heeltemal normaal, maar dit help wanneer mens net weer vir 'n oomblik oor als dink en besef waarom mens daar is. Ek het agtergekom dat dit die beste is om net heeltemal stil te bly wanneer die leerders te veel praat gedurende die les en meeste van die tyd maak die leerders wat werklik wil leer die ander dan stil. Baie sterkte en onthou net jy is nooit alleen nie. Ek is seker daarvan dat jy 'n groot verskil gaan maak in baie leerders se lewens.
ReplyDelete