Monday, 21 September 2015

PGCE#TeachingPrac#2015_Reflection_week 9_14th September-18th September_Schoonspruit Secondary School

Soveel emosies kom hier binne op in my terwyl ek reflekteer oor my proeftydperk. Ek is vol moed en opgewondenheid en kan nie wag om onderwys as professie te beklee nie. Na afloop van my "internskap" is ek verseker dat onderwys die beroep is waarin ek wil wees. Ek dink my persoonlikheid pas goed in by hierdie beroep en ek hou van saam mense werk. Die menseverhoudings wat jy opbou saam die opvoeders van die skool sowel as saam die leerders begin vir jou kosbaar raak met verloop van tyd. Dit is ook duidelik dat baie opvoeders hul passie vir onderwys verloor het waarvan leerders se swak dissipline die hoofrede daarvoor is. Ek het verwag dat die ouers, soos in die verlede, saam die opvoeders werk aan die opvoeding van hul kinders. Na afloop van my proeftydperk neem ek waar dat dit nie altyd die geval is nie. Deesdae werk die ouers teen die opvoeders en wil niks weet van hul kinders se negatiewe gedrag nie. Die gevolg hiervan is dat dit ons as opvoeders se taak moeilik maak en leerders word maklike teikens vir dwelmsmisbruik en bende verwante aktiwiteite. Ek kom ook agter dat ouers hul kinders te veel vrye teuls gee en nie weet waarmee die kind besig is oor naweke nie. Daarom dink ek dit is van kardinale belang dat opvoeding in terme van waardes en dissipline binne die klaskamer ook geskied. Die leerders in jou klas moet nie net 'n CEMIS nommer vir jou wees nie, maar as opvoeder moet jy 'n vriendskaplike verhouding bou saam die leerders volgens Aristotle. Ek besef ook dat 'n onderwyser se werk is nie net om die kurrikulum te fasiliteer nie, maar die meeste van die tyd moet ons optree as sielkundige, sosiale werker en maatskaplike werker. Daarom is dit belangrik om om te gee vir jou leerders en elkeen individueel te leer ken om die sosiale en sielkundige aspek van onderwys te verstaan. Dit is nie net van sielkundige of sosiale werker te wees nie, maar as opvoeder moet jy begrip het vir leerders se omstandighede. Hierdie week wat verby is het 'n graad 12 leerder die opsigter van die skool in die gesig gesteek nadat sy hulle vang besig was om te rook en dwelms te gebruik op die skoolgronde. Dit is kommerwekkend hoe die geweld by die dag toeneem op plattelandse skole. Ek verwag sulke gebeure in skole binne stedelike gebiede en het ek nou nuwe begrip vir opvoeders wat skool gee in gebiede waar bende-geweld toeneem by die orde van die dag. Ek besef dit is nie 'n maklike taak om te verrig en skool te gee in vrees nie. Ek het die hele dag met vrees rond geloop op die skoolgronde, terwyl daar opvoeders is wat elke dag skool gee in vrees. Dus beskou ek dit van belang dat ons as opvoeders leerders moet motiveer, ondersteun en bemoedig. Ons moet leerders se dryfkrag wees om bo hul omstandighede uit te styg. Daar was 'n tekort aan toesighouers by die skool, aangesien 8 opvoeders afwesig was. Ek en nog 'n student was genader om toesig te hou by die graad 11's waartydens hul Lewenswetenskap kontrole toets gesryf het. Ek het notas op een leerder gekry en dit was baie oorweldigend toe ek die notas by haar neem. Dit was terselfde tyd hartseer, want ek het haar nie gevang kyk op die notas nie, maar dit het by haar baadjie uitgesteek. Sy het die klas ontwrig en ek het die notas aan haar toets vasgekram. Sy het aan my verduidelik dat sy nie op dit gekyk het nie, maar ek moes eksamen prosedure gevolg het, want sy mag onder geen omstandighede notas op haar het terwyl sy die toets skryf nie. Ek het dit probeer stil as moontlik hou sodat die res van die klas nie agterkom nie, maar toe ruk dit heel uit verband uit. Daarom is dit so belangrik dat 'n opvoeder klas kontrole en klaskamer beheer kan toepas. Dit was vir my 'n uitdaging aan die begin van my proeftydperk, maar met verloop van tyd kon ek dit bemeester. Ek besef dat 'n opvoeder moet ferm en duidelik wees in haar/sy instruksies en nie bang wees om stappe te neem indien leerders jou uitdaag of reaksie uit te lok nie. Hierdie week het ek ook my laaste twee lesaanbiedings vir Wiskundige Geletterdheid gedoen. Na afloop van die lesaanbiedings is daar 'n groot verbetering in die toepassing van klas kontrole. Positiewe kommentaar van die opvoeder is dat ek altyd goed voorbereid was en 'n goeie beplande les gehad het. Ek het baie selfvertroue en dit blyk duidelik dat ek baie entoesiasties is oor my vakgebied. Aan die begin van my proeftydperk moes ek werk daaraan om klaskamer beheer te handhaaf, leerders gefokus kry voor ek met die lesaanbieding begin en meer aandag skenk op leerders se voorkennis. Ek is baie gemaklik om voor enige klas te staan, terwyl ek nog moet aandag skenk aan die manier waarop ek die vakinhoud aan leerders bekend stel. Ek besef dat ek die inhoud moet fasiliteer op 'n vlak wat leerders sal verstaan. Ek het ook waargeneem dat leerders verloor belangstelling in die lesaanbieding wanneer die vakinhoud bo of onder hul vlak van potensiaal aangebied word. Hiermee kom ek tot die gevolgtrekking dat ons die vakinhoud so moet aanbied dat ons alle leerders in die klas kan akkommodeer. Dit kan geskied deur verskillende onderwysmetodes toe te pas sodat leerders met verskillende behoeftes geakkommodeer word. Ek het ook ekstra klasse aangebied vir die graad 11 Fisiese Wetenskap klas en is dit vir my aangenaam om te sien die ywerigheid wat onder die leerders heers. Hierdie leerders wil goed doen en dit is vir my 'n riem onder die hart om te weet dat leerders moeite doen om die ekstra klasse by te woon. Meeste van hierdie leerders is van omliggende dorpe en maak elke dag van busvervoer gebruik. Hulle moet dus of by 'n vriendin/vriend oorslaap of vervoer reelings tref om sodoende die ekstra klasse by te woon. Ek is bly om te sien dat leerders nog daardie opofferings maak ongeag hul omstandighede en dit gee my hoop vir die professie. Ek het net weereens besef dat die onderwyssisteem benodig goeie opvoeders wat bereid is om meer te doen as wat van hulle verwag word. Leerders se opvoeding/onderrig moet 'n lewenslange passie bly en ons moenie moed verloor in hierdie professie nie. Almal se dat onderwys is nie meer wat dit destyds was nie, maar ek glo as jy jouself kan projekteer in die skoolomgewing waar ookal jy jouself sal bevind, sal dit als die moeite werd maak. Ek stel my eerder in om op die positiewe aspek van onderwys te fokus en te werk op die negatiewe aspekte. Geen uitdaging gaan vir my onder kry nie, want ek berus my in die gedagte dat ek my positiewe bydrae tot die samelewing lewer deur middel van my professie as onderwyser. ONDERWYS IS MY LEWE.

Sunday, 20 September 2015

PGCE#TeachingPrac#2015_Reflection_week 8_7th September -11th September_Schoonspruit Secondary School

Tweede laaste week van my praktiese tydperk by Schoonspruit Sekondere skool. As ek terug kyk na my proeftydperk, besef ek net weereens dat ek in die regte professie is. Ek het elke dag in kontak gekom met verskillende persoonlikhede, verskillende uitdagings in die gesig staar en verskillende situasies betree. Die feit dat elke dag anders is maak hierdie beroep opwindend. Uit die oogpunt van 'n opvoeder, kan ek waarlik se dat ek "my leerders" al hoe meer begin lief geword het by die dag. Ek dink nou al aan hoe moeilik dit sal wees om afskeid te neem, aangesien die 7 weke jou leefstyl begin word het. Netsoos onderwys sy positiewe aspekte het, is daar ook die negatiewe aspekte en uitdagings wat die skool en onderwyssisteem in die gesig staar. Dit is vir my kommerwekkend om te sien hoe baie skoolleerders dwelms misbruik op die plattelandse skole. Hierdie week is leerders deur 'n opvoeder gevang delms gebruik op die skoolgronde. Dit het my hart so seer gemaak om te weet dat leerders so jonk soos graad 9 hul lewens vergooi en hul assossieer met dwelms. Ek vra myself af waar is ons leerders heen oppad? Dit blyk of dwelmsmisbruik al hoe meer gewild raak onder leerders in die jonger grade. As opvoeder het ek baie vrae vir myself gevra soos: waar het dinge verkeerd gegaan? Ek het besef dat jy kan die leerders ondersteun, motiveer, moed in praat, waarsku, vermaan en praat met hulle, maar as opvoeders is ons nie naweke by hulle nie en dra ons nie altyd kennis van die vriendekringe en/of omstandighede waarin leerders hul bevind nie. Leerders moet 'n sterk persoonlikheid het en doelgerig wees in vandag se lewe om negatiewe uitdagings soos groepsdruk dwelmsmisbruik teen te staan. Alhoewel opvoeders dit nie hoef te doen nie, voel ek dat ons leerders moet inlig oor die gevolge van dwelmsmisbruik en tienerswangerskap. Die getal tienerswangerskap is ook hoog onder die dogters en woon meeste nie meer klasse by nie, maar kom skryf toetse en/of le hul eksamen af. Weereens besef ek dat ons as opvoeders moet ook voorligting aan leerders gee rakende hierdie twee onderwerpe. Ek voel dit is nie net ons werk om die kurrikulum te fasiliteer nie, maar meeste van die tyd moet ons ook optree as 'n sielkundige, maatskaplike werker en sosiale werker ens. Leerders het leiding nodig, iemand om hul vertroue in te stel asook iemand na wie hul kan opkyk. Ek weet ek wil daardie mentor vir my leerders wees as ek onderwys as professie betree. Hierdie week was ons ook gevra om toesig te hou by die graad 12's tydens hul eksamen. Ek moet se dat ek baie blootstelling ontvang het in terme van eksamen prosedures asook die prossessering van eksamenvraestelle. Toesighouding tydens eksamens is immers een van die opvoeders se pligte. Ek besef dat dit baie belangrik is om leerders se gedrag te beheer asook om kontrole toe te pas tydens toesighouding. As opvoeder moet jy leerders gefokus kry, terwyl jy self gefokus moet wees. Toesighouding het my baie vaak gemaak en ek het die tyd om gewens. Ek het nuwe begrip vir die mense wat toesig hou wanneer ek toetse en /of eksamenvraestelle afle, want dit voel die tyd staan dood stil. Ek is defnitief voorbereid vir die praktyk en weet watter prosedures gevolg moet word. Hierdie week het ek ook nog lesaanbiedings vir Wiskundige Geletterdheid gehad. Ek het al hoe meer selfvertroue begin bou en ek verbeter in terme van klas kontrole. Ek het dit moeilik gevind om klaskamer beheer uit te oefen weens leerders se dissiplinere probleme. Ek probeer werk aan die kritiek vanaf die opvoeder en gebruik dit om my onderrigstyl te verbeter. Met die aanloop van elke lesaanbieding probeer ek die leerders gefokus te kry deur 'n alledaagse onderwerp van hul belangstelling te verbind met die inhoud van die les om sodoende hul belangstelling te verdiep. Ek neem waar dat leerders meer gefokus is op die les en dit dra by dat hul die aktiwiteit met ywerig uitvoer en as 'n uitdaging beskou. Met verloop van tyd kan ek waarneem dat ek beter beheer het oor die leerders en dat ek in beheer voel van die onderriggebeure. Tydens die verloop van die lesaanbieding het ek waargeneem dat sommige leerders die aktiwiteit baie maklik vind en ander het nie 'n idee gehad wat om te doen nie. Ek kon my probleemareas identifiseer en ek besef dat ek moet meer fokus op leerders se voorkennis en stelselmatig bou tot die ontlokking van nuwe kennis. Ek het ook besef dat voorkennis en nuwe kennis kan nie afsonderlik behandel word nie, maar dit maak 'n integrale deel van mekaar uit en moet volgens diktatiese onderrigswyse aan die leerders bekend gestel word. Sodoende kan ek dan verseker dat al die leerders in die klas dieselfde agtergrond van kennis het en weet wat van hulle verwag word. As opvoeder het ek defnitief gegroei en ervaar ek 'n verbetering in my onderrigstyl. Ek begin al hoe meer verduidelik na gelang van die klas se potensiaal en nie net na gelang van sekere leerders se potensiaal nie.

PGCE#TeachingPrac#2015_Reflection_week 7_31 August-4 September_Schoonspruit Secondary School

Hierdie week was ek deur die dosente ge-evalueer vir Wiskundige Geletterdheid en Fisiese Wetenskappe. Alhoewel die uitkomste van die lesaanbiedings vir beide vakke goed afgeloop het, was ek baie gespanne met die aanloop van die lesaanbieding vir Wiskundige Geletterdheid. Ek dink die feit dat ek bewus was dat ek ge-evalueer word het grootliks bygedrae tot die senuweeagtigheid,maar ek het meer gemakliker geraak met die verloop van die lesaanbieding. 'n Positiewe aspek van die lesaanbieding was dat die graad 12 Wiskundige Geletterdheid klas uit 16 leerders bestaan en ek kon individuele aandag skenk aan elke leerder binne groepsverband. Ek het besef dat leerders 'n beter begrip het van wat van hulle verwag word indien jy as opvoeder die instruksies en die probleem weer saam leerders lees en aan hulle verduidelik. Tydens die verloop van die les het ek waargeneem dat leerders dit moeilik gevind het om die inligtingstabel te interpreteer, aangesien hulle nie die opskrifte en vrae deeglik lees nie. Ek het ook waargeneem dat die leerders wie se aandag afleibaar is vinniger werk as die res van die klas en die aktiwiteit voltooi het voor die res van die klas. Ek beskou dit as 'n tegniek om te werk en te gesels terselfde tyd. Dit was vir my aangenaam om te sien dat leerders die vertroue geneem het om my te raadpleeg indien hul vashaak met die probleem. Die negatiewe aspek van die lesaanbieding was die korter periodes en sommige van die leerders het nie heeltemal klaar gekry met die aktiwiteit nie. Ek het dit baie geniet om die Wiskundige Geletterdheid les aan te bied, aangesien leerders hul samewerking gegee het en deelgeneem het aan die klasgesprek. Ek het verwag dat die leerders die aktiwiteit kon uitvoer, omdat dit eintlik as 'n hersienning les dien vir die graad 12's. Soos ek verwag het, kon meeste leerders die aktiwiteit uitvoer. Die lesaanbieding vir Fisiese Wetenskap het baie beter afgeloop as vir Wiskundige Geletterdheid. Dit was vir my 'n riem onder die hart om waar te neem hoe die leerders interaksie toon met die leerstof en aktief betrokke was by die lesaanbieding. Die leerders was ywerig om die aktiwiteit te voltooi en ek het waargeneem dat daar gesonde onderlangse kompetisie ontstaan tussen die leerders in die klas. Ek het leerders aktief betrek by die les deurdat hulle die antwoorde op die bord doen. Die leerders was ook nie in staat om die aktiwiteit in die klaskamer te voltooi nie weens die kort periodes, maar ek het dit as tuiswerk gegee om te voltooi. Dit was vir my moeilik om individuele aandag te skenk aan leerders, aangesien dit 'n groot klas is. Ek het die leerders in groepe verdeel sodat elke leerder die aktiwiteit individueel voltooi binne groepsverband. Leerders leer die vermoë aan om opdragte individueel uit te voer asook binne groepsverband. Die positiewe aspek van die lesaanbieding was die samewerking wat leerders getoon het en die deelname aan die klasgesprek. Ek moes op die ou einde klas kontrole handhaaf as gevolg van leerders se gewilligheid. Ek was baie meer gemakliker met die aanbieding van Fisiese Wetenskappe as met Wiskundige Geletterdheid. Ek het die les so baie geniet dat dit voel die tyd het gevlieg. Ek kon aan die leerders se gewilligheid sien dat hulle ook die les geniet het en selfs die leerders wie se aandag afleibaar is, het die meeste samewerking getoon. Na afloop van die Fisiese Wetenskap lesaanbieding het ek waargeneem dat leerders dit moeilik gevind het om die stroombaan kringdiagram van 'n gekombineerde serie- en parallelle skakeling te ontleed. Leerders het 'n goeie agtergrond oor die onderwerp gehad en kon hul voorkennis toepas om die stroombaanprobleem op te los. Ek het ook waargeneem dat sommige leerders vinniger werk as die res van die klas en daarom het ek 'n ekstra probleem as uitdaging by die aktiwiteit ingevoeg en ook 'n bonusvraag. Ek het meer aandag geskenk en leiding gegee aan die leerders wat dit moeilik gevind het om die aktiwiteit uit te voer, terwyl ek kort-kort seker gemaak het oor die res se vordering met die aktiwiteit. Afgesien van die lesaanbiedings, was die skool in rep en roer die week. Die leerders het 'n nuwe speletjie agtergekom genaamd "Charlie Charlie". Hierdie speletjie veroorsaak ontwrigting in die klasse waarvan die opvoeders geen beheer het nie. Dit is vir my so snaaks dat leerders eintlik 'n groot vrees vir die speletjie het, maar tog so nuuskierig is om dit te speel. Ek neem waar dat hierdie speletjie baie meer gewild onder die jonger grade is nl. die graad 8-10's. Die graad 11 en 12 leerders is baie meer volwasse en het nie 'n behoefte daaraan om dit te speel nie. Gelukkig het die Fisiese Wetenskap klasse nie vir hulle opgehou met die speletjie tydens klas nie, aangesien die opvoeder goeie klas kontrole toepas en leerders nie sommer kanse sal vat nie, terwyl die leerders in ander leerareas uit die klasse gehardloop het en ander klasse ontwrig het. Ek neem waar dat leerders die opvoeder(s) se reaksie uitlok deur die klasse te ontwrig d.m.v die "Charlie-Charlie" speletjie. Dit blyk dat dit ekstra moeilik is om leerders op 'n Vrydag te beheer. Daar heers 'n opgewondenheid onder leerders en 'n traak-my-nie houding. Dit is vir my kommerwekkend hoe leerders nie op 'n Vrydag wil werk nie en ek neem waar dat daar 'n onrustigheid heers binne die klaskamers. Die uitdaging is dus om leerders gefokus te kry en hul te motiveer om te werk tot die einde van die dag. Ek dink dit gaan ook 'n groot uitdaging wees wat ek as opvoeder in die gesig gaan staar wanneer ek in die praktyk is. Die matrikulante het ook Vrydag met hul Nasionale September eksamen begin. Dit was vir my kommerwekkend om te sien hoeveel matrikulante nie skool bygewoon het hierdie week nie. Die opvoeders het hersienning gedoen of die laaste afronding van werk gedoen. Leerders kan nie geforseer word om skool by te woon nie, maar ek dink daar moet riglyne in plek gestel word wat leerders motiveer om skool by te woon. Dis altyd die leerders wat goed wil vaar wat ten alle tye by die skool is en binne die klaskamer. As opvoeders moet ons nie net konsentreer op die leerders wat wil werk nie, maar 'n motivering wees vir die leerders wat nie hou van werk nie of laks is om te werk. Ek het waargeneem tydens my waarnemingsklasse met die graad 12's dat die leerders wat nie hou van werk nie, kort net bietjie motivering van hul opvoeders. Ek besef dat dit belangrik is om vir jou leerders te wys dat jy glo in hulle en dat jy 'n ondersteuningsmeganisme is vir hulle binne en buite die vakgebied.

Wednesday, 2 September 2015

PGCE#TeachingPrac#2015_Reflection_week 6_24 August - 28 August_Schoonspruit Secondary School

Die week van 24 - 28 Augustus was 'n baie stil week by die skool. Die matriekulante was besig met kontrole toetse wat aanleiding gegee het tot langer register-periodes en korter klasperiodes. Na afloop van die week, het ek baie lesse aangebied vir Fisiese Wetenskappe. Dit is vir my aangenaam om met die Fisiese Wetenskap klasse te werk, omdat hierdie leerders hardwerkend is en belangstelling toon in die vakgebied alhoewel sommiges nie akademies sterk daarin presteer nie. Die grootste probleem of uitdaging wat ek in hierdie vakgebied ondervind, is dat leerders baie stadig werk. Ek bereik nie my lesdoelwitte en uitkomste nie. Ek het al aanpassings gemaak soos om my les te verkort. Ek het ook gesien dat dit beter is, indien moontlik, die konsepte en inhoud te verduidelik in die vorm van sketse op die bord sodat leerders die leerstof vinniger kan begryp as wat hulle moet luister na baie informasie en dit terselfde tyd moet prosesseer. Ek probeer werk aan oplossings om leerders aan te moedig om vinniger te werk soos blitstoetse op te stel waar leerders 'n aantal vrae in 'n sekere tyd moet voltooi. Die voordeel van blitstoetse is dat leerders die dag se werk gaan leer wat ek met hulle behandel het en so word die inhoud van konsepte vasgelê. Dit bevorder ook leerders se skryftegnieke en forseer hulle om te leer, aangesien daar nie tyd is om te dink oor die antwoord nie. Tydens my internskap, sien ek hoe belangrik dit is om verskillende onderwysmetodes toe te pas. Ek het waargeneem dat leerders hou van aktief betrokke wees by die leerstof en deel te neem aan klasgesprekke. Die feit dat klasgesprekke leerders intellektueel stimuleer kom sterk navore. Ek besef ook dat leerders hou van in groepe werk en sommiges individueel, daarom is dit van kardinale belang om verskeie onderwysmetodes in een lesaanbieding toe te pas. Wat vir my as 'n Fisiese Wetenskap opvoeder van belang is in my vakgebied, is dat leerders die teorie in verband moet bring met die werklikheid. Laasweek het ek hersienning gedoen op elektriese stroombane en die komponente van elektriese stroombane en dit was vir my 'n riem onder die hart toe die leerders 'n werklike stroombaan op pen en papier kon voorstel. Ek het ook besef dat die tipe verhouding wat jy met die leerders bou het 'n groot invloed op hul akademiese prestasie. Die leerders is nou baie meer gewillig om saam my te werk as aan die begin van my internskap, aangesien ons mekaar beter ken en 'n goeie verstandhouding gebou het vanaf dag 1. Na afloop van my lesaanbieding vir die graad 10 Fisiese Wetenskap klasse, het ek waargeneem dat die een klas die konsepte vinniger begryp as die ander klas. Dus, moes ek verandering aangebring het aan die aanbieding van my les en die manier waarop ek die inhoud fasiliteer. In plaas daarvan om net te aanvaar dat dieselfde onderrigmetode vir beide klasse sal werk, moes ek gebruik maak van verskillende onderwysmetodes om vas te stel watter metode beter werk vir watter klas. Daar is 'n groot verskil tussen die graad 12 Wiskundige Geletterdheid klasse en die graad 10 klasse. Ek het verwag dat ek dieselfde houding onder die graad 12's sal waarneem, maar inteendeel is dit die teenoorgestelde. Die graad 12 Wiskundige Geletterdheid klasse toon meer belangstelling in die vak as die graad 10's. Hulle is hardwerkend en dit is duidelik dat hul interpretasie as 'n tegniek bemeester binne die vakgebied. Wat opmerkend was vir my as opvoeder in die graad 12 klasse, is dat die leerders wie se aandag afleibaar is gewoonlik vinniger werk as die res van die klas en hul antwoorde die mees korrekste is. Ek kan dus nie vasstel of hul die aktiwiteite te maklik vind nie en of hul van daardie tipe leerders is wat kan werk terwyl hulle gesels, aangesien ek nie kennis dra van hul akademiese prestasies nie. Die uitdaging met graad 10's is dat meeste van hierdie leerders se aandag afleibaar is. Ek probeer nog oplossings vind om die leerders gefokus te kry deur die wiskunde toe te pas in alledaagse onderwerpe waarin hul belangstel soos musiek. Daarom kan ek die afleiding maak dat hul geen belangstelling toon in die vakgebied nie, nie net omdat ek waarneem dat hulle aandag afleibaar is nie, maar ook omdat ek kennis dra van hul akademiese uitslae. Ek besef dat dit van kardinale belang is om entoesiasties te wees oor jou vakgebied en die aanbieding van jou les so interessant as moontlik te maak om leerders se belangstelling in die vak te verdiep. Dit moet vir leerders lekker wees om wiskunde te doen eerder as om vir hulle te forseer om deel te neem. Ek let ook op dat beter uitslae verkry word wanneer leerders uit eie wil wil deelneem aan klasaktiwiteite as wat hul forseer word om die oefeninge uit te voer. Die uitdaging wat ek in die oë staar is hoe om leerders tot by die punt te kry om uit eie wil deel te neem aan die klasaktiwiteite en leerstof wat aan hul gebied word eerder as om hul te forseer om hul werk te doen. Dis goed en wel dat leerders hoë verwagtinge vir hulself skep, maar alles moet nie om punte en uitslae draai nie. Ek voel ons moet leerders se denke rig daarop om uit hul foute te leer as wat dit gefokus is om hoë punte te behaal.