Wednesday, 2 September 2015
PGCE#TeachingPrac#2015_Reflection_week 6_24 August - 28 August_Schoonspruit Secondary School
Die week van 24 - 28 Augustus was 'n baie stil week by die skool. Die matriekulante was besig met kontrole toetse wat aanleiding gegee het tot langer register-periodes en korter klasperiodes. Na afloop van die week, het ek baie lesse aangebied vir Fisiese Wetenskappe. Dit is vir my aangenaam om met die Fisiese Wetenskap klasse te werk, omdat hierdie leerders hardwerkend is en belangstelling toon in die vakgebied alhoewel sommiges nie akademies sterk daarin presteer nie. Die grootste probleem of uitdaging wat ek in hierdie vakgebied ondervind, is dat leerders baie stadig werk. Ek bereik nie my lesdoelwitte en uitkomste nie. Ek het al aanpassings gemaak soos om my les te verkort. Ek het ook gesien dat dit beter is, indien moontlik, die konsepte en inhoud te verduidelik in die vorm van sketse op die bord sodat leerders die leerstof vinniger kan begryp as wat hulle moet luister na baie informasie en dit terselfde tyd moet prosesseer. Ek probeer werk aan oplossings om leerders aan te moedig om vinniger te werk soos blitstoetse op te stel waar leerders 'n aantal vrae in 'n sekere tyd moet voltooi. Die voordeel van blitstoetse is dat leerders die dag se werk gaan leer wat ek met hulle behandel het en so word die inhoud van konsepte vasgelê. Dit bevorder ook leerders se skryftegnieke en forseer hulle om te leer, aangesien daar nie tyd is om te dink oor die antwoord nie.
Tydens my internskap, sien ek hoe belangrik dit is om verskillende onderwysmetodes toe te pas. Ek het waargeneem dat leerders hou van aktief betrokke wees by die leerstof en deel te neem aan klasgesprekke. Die feit dat klasgesprekke leerders intellektueel stimuleer kom sterk navore. Ek besef ook dat leerders hou van in groepe werk en sommiges individueel, daarom is dit van kardinale belang om verskeie onderwysmetodes in een lesaanbieding toe te pas. Wat vir my as 'n Fisiese Wetenskap opvoeder van belang is in my vakgebied, is dat leerders die teorie in verband moet bring met die werklikheid. Laasweek het ek hersienning gedoen op elektriese stroombane en die komponente van elektriese stroombane en dit was vir my 'n riem onder die hart toe die leerders 'n werklike stroombaan op pen en papier kon voorstel. Ek het ook besef dat die tipe verhouding wat jy met die leerders bou het 'n groot invloed op hul akademiese prestasie. Die leerders is nou baie meer gewillig om saam my te werk as aan die begin van my internskap, aangesien ons mekaar beter ken en 'n goeie verstandhouding gebou het vanaf dag 1.
Na afloop van my lesaanbieding vir die graad 10 Fisiese Wetenskap klasse, het ek waargeneem dat die een klas die konsepte vinniger begryp as die ander klas. Dus, moes ek verandering aangebring het aan die aanbieding van my les en die manier waarop ek die inhoud fasiliteer. In plaas daarvan om net te aanvaar dat dieselfde onderrigmetode vir beide klasse sal werk, moes ek gebruik maak van verskillende onderwysmetodes om vas te stel watter metode beter werk vir watter klas.
Daar is 'n groot verskil tussen die graad 12 Wiskundige Geletterdheid klasse en die graad 10 klasse. Ek het verwag dat ek dieselfde houding onder die graad 12's sal waarneem, maar inteendeel is dit die teenoorgestelde. Die graad 12 Wiskundige Geletterdheid klasse toon meer belangstelling in die vak as die graad 10's. Hulle is hardwerkend en dit is duidelik dat hul interpretasie as 'n tegniek bemeester binne die vakgebied. Wat opmerkend was vir my as opvoeder in die graad 12 klasse, is dat die leerders wie se aandag afleibaar is gewoonlik vinniger werk as die res van die klas en hul antwoorde die mees korrekste is. Ek kan dus nie vasstel of hul die aktiwiteite te maklik vind nie en of hul van daardie tipe leerders is wat kan werk terwyl hulle gesels, aangesien ek nie kennis dra van hul akademiese prestasies nie. Die uitdaging met graad 10's is dat meeste van hierdie leerders se aandag afleibaar is. Ek probeer nog oplossings vind om die leerders gefokus te kry deur die wiskunde toe te pas in alledaagse onderwerpe waarin hul belangstel soos musiek. Daarom kan ek die afleiding maak dat hul geen belangstelling toon in die vakgebied nie, nie net omdat ek waarneem dat hulle aandag afleibaar is nie, maar ook omdat ek kennis dra van hul akademiese uitslae.
Ek besef dat dit van kardinale belang is om entoesiasties te wees oor jou vakgebied en die aanbieding van jou les so interessant as moontlik te maak om leerders se belangstelling in die vak te verdiep. Dit moet vir leerders lekker wees om wiskunde te doen eerder as om vir hulle te forseer om deel te neem. Ek let ook op dat beter uitslae verkry word wanneer leerders uit eie wil wil deelneem aan klasaktiwiteite as wat hul forseer word om die oefeninge uit te voer. Die uitdaging wat ek in die oë staar is hoe om leerders tot by die punt te kry om uit eie wil deel te neem aan die klasaktiwiteite en leerstof wat aan hul gebied word eerder as om hul te forseer om hul werk te doen. Dis goed en wel dat leerders hoë verwagtinge vir hulself skep, maar alles moet nie om punte en uitslae draai nie. Ek voel ons moet leerders se denke rig daarop om uit hul foute te leer as wat dit gefokus is om hoë punte te behaal.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment