Sunday, 20 September 2015

PGCE#TeachingPrac#2015_Reflection_week 7_31 August-4 September_Schoonspruit Secondary School

Hierdie week was ek deur die dosente ge-evalueer vir Wiskundige Geletterdheid en Fisiese Wetenskappe. Alhoewel die uitkomste van die lesaanbiedings vir beide vakke goed afgeloop het, was ek baie gespanne met die aanloop van die lesaanbieding vir Wiskundige Geletterdheid. Ek dink die feit dat ek bewus was dat ek ge-evalueer word het grootliks bygedrae tot die senuweeagtigheid,maar ek het meer gemakliker geraak met die verloop van die lesaanbieding. 'n Positiewe aspek van die lesaanbieding was dat die graad 12 Wiskundige Geletterdheid klas uit 16 leerders bestaan en ek kon individuele aandag skenk aan elke leerder binne groepsverband. Ek het besef dat leerders 'n beter begrip het van wat van hulle verwag word indien jy as opvoeder die instruksies en die probleem weer saam leerders lees en aan hulle verduidelik. Tydens die verloop van die les het ek waargeneem dat leerders dit moeilik gevind het om die inligtingstabel te interpreteer, aangesien hulle nie die opskrifte en vrae deeglik lees nie. Ek het ook waargeneem dat die leerders wie se aandag afleibaar is vinniger werk as die res van die klas en die aktiwiteit voltooi het voor die res van die klas. Ek beskou dit as 'n tegniek om te werk en te gesels terselfde tyd. Dit was vir my aangenaam om te sien dat leerders die vertroue geneem het om my te raadpleeg indien hul vashaak met die probleem. Die negatiewe aspek van die lesaanbieding was die korter periodes en sommige van die leerders het nie heeltemal klaar gekry met die aktiwiteit nie. Ek het dit baie geniet om die Wiskundige Geletterdheid les aan te bied, aangesien leerders hul samewerking gegee het en deelgeneem het aan die klasgesprek. Ek het verwag dat die leerders die aktiwiteit kon uitvoer, omdat dit eintlik as 'n hersienning les dien vir die graad 12's. Soos ek verwag het, kon meeste leerders die aktiwiteit uitvoer. Die lesaanbieding vir Fisiese Wetenskap het baie beter afgeloop as vir Wiskundige Geletterdheid. Dit was vir my 'n riem onder die hart om waar te neem hoe die leerders interaksie toon met die leerstof en aktief betrokke was by die lesaanbieding. Die leerders was ywerig om die aktiwiteit te voltooi en ek het waargeneem dat daar gesonde onderlangse kompetisie ontstaan tussen die leerders in die klas. Ek het leerders aktief betrek by die les deurdat hulle die antwoorde op die bord doen. Die leerders was ook nie in staat om die aktiwiteit in die klaskamer te voltooi nie weens die kort periodes, maar ek het dit as tuiswerk gegee om te voltooi. Dit was vir my moeilik om individuele aandag te skenk aan leerders, aangesien dit 'n groot klas is. Ek het die leerders in groepe verdeel sodat elke leerder die aktiwiteit individueel voltooi binne groepsverband. Leerders leer die vermoƫ aan om opdragte individueel uit te voer asook binne groepsverband. Die positiewe aspek van die lesaanbieding was die samewerking wat leerders getoon het en die deelname aan die klasgesprek. Ek moes op die ou einde klas kontrole handhaaf as gevolg van leerders se gewilligheid. Ek was baie meer gemakliker met die aanbieding van Fisiese Wetenskappe as met Wiskundige Geletterdheid. Ek het die les so baie geniet dat dit voel die tyd het gevlieg. Ek kon aan die leerders se gewilligheid sien dat hulle ook die les geniet het en selfs die leerders wie se aandag afleibaar is, het die meeste samewerking getoon. Na afloop van die Fisiese Wetenskap lesaanbieding het ek waargeneem dat leerders dit moeilik gevind het om die stroombaan kringdiagram van 'n gekombineerde serie- en parallelle skakeling te ontleed. Leerders het 'n goeie agtergrond oor die onderwerp gehad en kon hul voorkennis toepas om die stroombaanprobleem op te los. Ek het ook waargeneem dat sommige leerders vinniger werk as die res van die klas en daarom het ek 'n ekstra probleem as uitdaging by die aktiwiteit ingevoeg en ook 'n bonusvraag. Ek het meer aandag geskenk en leiding gegee aan die leerders wat dit moeilik gevind het om die aktiwiteit uit te voer, terwyl ek kort-kort seker gemaak het oor die res se vordering met die aktiwiteit. Afgesien van die lesaanbiedings, was die skool in rep en roer die week. Die leerders het 'n nuwe speletjie agtergekom genaamd "Charlie Charlie". Hierdie speletjie veroorsaak ontwrigting in die klasse waarvan die opvoeders geen beheer het nie. Dit is vir my so snaaks dat leerders eintlik 'n groot vrees vir die speletjie het, maar tog so nuuskierig is om dit te speel. Ek neem waar dat hierdie speletjie baie meer gewild onder die jonger grade is nl. die graad 8-10's. Die graad 11 en 12 leerders is baie meer volwasse en het nie 'n behoefte daaraan om dit te speel nie. Gelukkig het die Fisiese Wetenskap klasse nie vir hulle opgehou met die speletjie tydens klas nie, aangesien die opvoeder goeie klas kontrole toepas en leerders nie sommer kanse sal vat nie, terwyl die leerders in ander leerareas uit die klasse gehardloop het en ander klasse ontwrig het. Ek neem waar dat leerders die opvoeder(s) se reaksie uitlok deur die klasse te ontwrig d.m.v die "Charlie-Charlie" speletjie. Dit blyk dat dit ekstra moeilik is om leerders op 'n Vrydag te beheer. Daar heers 'n opgewondenheid onder leerders en 'n traak-my-nie houding. Dit is vir my kommerwekkend hoe leerders nie op 'n Vrydag wil werk nie en ek neem waar dat daar 'n onrustigheid heers binne die klaskamers. Die uitdaging is dus om leerders gefokus te kry en hul te motiveer om te werk tot die einde van die dag. Ek dink dit gaan ook 'n groot uitdaging wees wat ek as opvoeder in die gesig gaan staar wanneer ek in die praktyk is. Die matrikulante het ook Vrydag met hul Nasionale September eksamen begin. Dit was vir my kommerwekkend om te sien hoeveel matrikulante nie skool bygewoon het hierdie week nie. Die opvoeders het hersienning gedoen of die laaste afronding van werk gedoen. Leerders kan nie geforseer word om skool by te woon nie, maar ek dink daar moet riglyne in plek gestel word wat leerders motiveer om skool by te woon. Dis altyd die leerders wat goed wil vaar wat ten alle tye by die skool is en binne die klaskamer. As opvoeders moet ons nie net konsentreer op die leerders wat wil werk nie, maar 'n motivering wees vir die leerders wat nie hou van werk nie of laks is om te werk. Ek het waargeneem tydens my waarnemingsklasse met die graad 12's dat die leerders wat nie hou van werk nie, kort net bietjie motivering van hul opvoeders. Ek besef dat dit belangrik is om vir jou leerders te wys dat jy glo in hulle en dat jy 'n ondersteuningsmeganisme is vir hulle binne en buite die vakgebied.

No comments:

Post a Comment