Anthy
Monday, 21 September 2015
PGCE#TeachingPrac#2015_Reflection_week 9_14th September-18th September_Schoonspruit Secondary School
Soveel emosies kom hier binne op in my terwyl ek reflekteer oor my proeftydperk. Ek is vol moed en opgewondenheid en kan nie wag om onderwys as professie te beklee nie. Na afloop van my "internskap" is ek verseker dat onderwys die beroep is waarin ek wil wees. Ek dink my persoonlikheid pas goed in by hierdie beroep en ek hou van saam mense werk. Die menseverhoudings wat jy opbou saam die opvoeders van die skool sowel as saam die leerders begin vir jou kosbaar raak met verloop van tyd. Dit is ook duidelik dat baie opvoeders hul passie vir onderwys verloor het waarvan leerders se swak dissipline die hoofrede daarvoor is. Ek het verwag dat die ouers, soos in die verlede, saam die opvoeders werk aan die opvoeding van hul kinders. Na afloop van my proeftydperk neem ek waar dat dit nie altyd die geval is nie. Deesdae werk die ouers teen die opvoeders en wil niks weet van hul kinders se negatiewe gedrag nie. Die gevolg hiervan is dat dit ons as opvoeders se taak moeilik maak en leerders word maklike teikens vir dwelmsmisbruik en bende verwante aktiwiteite. Ek kom ook agter dat ouers hul kinders te veel vrye teuls gee en nie weet waarmee die kind besig is oor naweke nie. Daarom dink ek dit is van kardinale belang dat opvoeding in terme van waardes en dissipline binne die klaskamer ook geskied. Die leerders in jou klas moet nie net 'n CEMIS nommer vir jou wees nie, maar as opvoeder moet jy 'n vriendskaplike verhouding bou saam die leerders volgens Aristotle. Ek besef ook dat 'n onderwyser se werk is nie net om die kurrikulum te fasiliteer nie, maar die meeste van die tyd moet ons optree as sielkundige, sosiale werker en maatskaplike werker. Daarom is dit belangrik om om te gee vir jou leerders en elkeen individueel te leer ken om die sosiale en sielkundige aspek van onderwys te verstaan. Dit is nie net van sielkundige of sosiale werker te wees nie, maar as opvoeder moet jy begrip het vir leerders se omstandighede.
Hierdie week wat verby is het 'n graad 12 leerder die opsigter van die skool in die gesig gesteek nadat sy hulle vang besig was om te rook en dwelms te gebruik op die skoolgronde. Dit is kommerwekkend hoe die geweld by die dag toeneem op plattelandse skole. Ek verwag sulke gebeure in skole binne stedelike gebiede en het ek nou nuwe begrip vir opvoeders wat skool gee in gebiede waar bende-geweld toeneem by die orde van die dag. Ek besef dit is nie 'n maklike taak om te verrig en skool te gee in vrees nie. Ek het die hele dag met vrees rond geloop op die skoolgronde, terwyl daar opvoeders is wat elke dag skool gee in vrees. Dus beskou ek dit van belang dat ons as opvoeders leerders moet motiveer, ondersteun en bemoedig. Ons moet leerders se dryfkrag wees om bo hul omstandighede uit te styg.
Daar was 'n tekort aan toesighouers by die skool, aangesien 8 opvoeders afwesig was. Ek en nog 'n student was genader om toesig te hou by die graad 11's waartydens hul Lewenswetenskap kontrole toets gesryf het. Ek het notas op een leerder gekry en dit was baie oorweldigend toe ek die notas by haar neem. Dit was terselfde tyd hartseer, want ek het haar nie gevang kyk op die notas nie, maar dit het by haar baadjie uitgesteek. Sy het die klas ontwrig en ek het die notas aan haar toets vasgekram. Sy het aan my verduidelik dat sy nie op dit gekyk het nie, maar ek moes eksamen prosedure gevolg het, want sy mag onder geen omstandighede notas op haar het terwyl sy die toets skryf nie. Ek het dit probeer stil as moontlik hou sodat die res van die klas nie agterkom nie, maar toe ruk dit heel uit verband uit. Daarom is dit so belangrik dat 'n opvoeder klas kontrole en klaskamer beheer kan toepas. Dit was vir my 'n uitdaging aan die begin van my proeftydperk, maar met verloop van tyd kon ek dit bemeester. Ek besef dat 'n opvoeder moet ferm en duidelik wees in haar/sy instruksies en nie bang wees om stappe te neem indien leerders jou uitdaag of reaksie uit te lok nie.
Hierdie week het ek ook my laaste twee lesaanbiedings vir Wiskundige Geletterdheid gedoen. Na afloop van die lesaanbiedings is daar 'n groot verbetering in die toepassing van klas kontrole. Positiewe kommentaar van die opvoeder is dat ek altyd goed voorbereid was en 'n goeie beplande les gehad het. Ek het baie selfvertroue en dit blyk duidelik dat ek baie entoesiasties is oor my vakgebied. Aan die begin van my proeftydperk moes ek werk daaraan om klaskamer beheer te handhaaf, leerders gefokus kry voor ek met die lesaanbieding begin en meer aandag skenk op leerders se voorkennis. Ek is baie gemaklik om voor enige klas te staan, terwyl ek nog moet aandag skenk aan die manier waarop ek die vakinhoud aan leerders bekend stel. Ek besef dat ek die inhoud moet fasiliteer op 'n vlak wat leerders sal verstaan. Ek het ook waargeneem dat leerders verloor belangstelling in die lesaanbieding wanneer die vakinhoud bo of onder hul vlak van potensiaal aangebied word. Hiermee kom ek tot die gevolgtrekking dat ons die vakinhoud so moet aanbied dat ons alle leerders in die klas kan akkommodeer. Dit kan geskied deur verskillende onderwysmetodes toe te pas sodat leerders met verskillende behoeftes geakkommodeer word.
Ek het ook ekstra klasse aangebied vir die graad 11 Fisiese Wetenskap klas en is dit vir my aangenaam om te sien die ywerigheid wat onder die leerders heers. Hierdie leerders wil goed doen en dit is vir my 'n riem onder die hart om te weet dat leerders moeite doen om die ekstra klasse by te woon. Meeste van hierdie leerders is van omliggende dorpe en maak elke dag van busvervoer gebruik. Hulle moet dus of by 'n vriendin/vriend oorslaap of vervoer reelings tref om sodoende die ekstra klasse by te woon. Ek is bly om te sien dat leerders nog daardie opofferings maak ongeag hul omstandighede en dit gee my hoop vir die professie. Ek het net weereens besef dat die onderwyssisteem benodig goeie opvoeders wat bereid is om meer te doen as wat van hulle verwag word. Leerders se opvoeding/onderrig moet 'n lewenslange passie bly en ons moenie moed verloor in hierdie professie nie. Almal se dat onderwys is nie meer wat dit destyds was nie, maar ek glo as jy jouself kan projekteer in die skoolomgewing waar ookal jy jouself sal bevind, sal dit als die moeite werd maak. Ek stel my eerder in om op die positiewe aspek van onderwys te fokus en te werk op die negatiewe aspekte. Geen uitdaging gaan vir my onder kry nie, want ek berus my in die gedagte dat ek my positiewe bydrae tot die samelewing lewer deur middel van my professie as onderwyser. ONDERWYS IS MY LEWE.
Sunday, 20 September 2015
PGCE#TeachingPrac#2015_Reflection_week 8_7th September -11th September_Schoonspruit Secondary School
Tweede laaste week van my praktiese tydperk by Schoonspruit Sekondere skool. As ek terug kyk na my proeftydperk, besef ek net weereens dat ek in die regte professie is. Ek het elke dag in kontak gekom met verskillende persoonlikhede, verskillende uitdagings in die gesig staar en verskillende situasies betree. Die feit dat elke dag anders is maak hierdie beroep opwindend. Uit die oogpunt van 'n opvoeder, kan ek waarlik se dat ek "my leerders" al hoe meer begin lief geword het by die dag. Ek dink nou al aan hoe moeilik dit sal wees om afskeid te neem, aangesien die 7 weke jou leefstyl begin word het.
Netsoos onderwys sy positiewe aspekte het, is daar ook die negatiewe aspekte en uitdagings wat die skool en onderwyssisteem in die gesig staar. Dit is vir my kommerwekkend om te sien hoe baie skoolleerders dwelms misbruik op die plattelandse skole. Hierdie week is leerders deur 'n opvoeder gevang delms gebruik op die skoolgronde. Dit het my hart so seer gemaak om te weet dat leerders so jonk soos graad 9 hul lewens vergooi en hul assossieer met dwelms. Ek vra myself af waar is ons leerders heen oppad? Dit blyk of dwelmsmisbruik al hoe meer gewild raak onder leerders in die jonger grade. As opvoeder het ek baie vrae vir myself gevra soos: waar het dinge verkeerd gegaan? Ek het besef dat jy kan die leerders ondersteun, motiveer, moed in praat, waarsku, vermaan en praat met hulle, maar as opvoeders is ons nie naweke by hulle nie en dra ons nie altyd kennis van die vriendekringe en/of omstandighede waarin leerders hul bevind nie. Leerders moet 'n sterk persoonlikheid het en doelgerig wees in vandag se lewe om negatiewe uitdagings soos groepsdruk dwelmsmisbruik teen te staan. Alhoewel opvoeders dit nie hoef te doen nie, voel ek dat ons leerders moet inlig oor die gevolge van dwelmsmisbruik en tienerswangerskap. Die getal tienerswangerskap is ook hoog onder die dogters en woon meeste nie meer klasse by nie, maar kom skryf toetse en/of le hul eksamen af. Weereens besef ek dat ons as opvoeders moet ook voorligting aan leerders gee rakende hierdie twee onderwerpe. Ek voel dit is nie net ons werk om die kurrikulum te fasiliteer nie, maar meeste van die tyd moet ons ook optree as 'n sielkundige, maatskaplike werker en sosiale werker ens. Leerders het leiding nodig, iemand om hul vertroue in te stel asook iemand na wie hul kan opkyk. Ek weet ek wil daardie mentor vir my leerders wees as ek onderwys as professie betree.
Hierdie week was ons ook gevra om toesig te hou by die graad 12's tydens hul eksamen. Ek moet se dat ek baie blootstelling ontvang het in terme van eksamen prosedures asook die prossessering van eksamenvraestelle. Toesighouding tydens eksamens is immers een van die opvoeders se pligte. Ek besef dat dit baie belangrik is om leerders se gedrag te beheer asook om kontrole toe te pas tydens toesighouding. As opvoeder moet jy leerders gefokus kry, terwyl jy self gefokus moet wees. Toesighouding het my baie vaak gemaak en ek het die tyd om gewens. Ek het nuwe begrip vir die mense wat toesig hou wanneer ek toetse en /of eksamenvraestelle afle, want dit voel die tyd staan dood stil. Ek is defnitief voorbereid vir die praktyk en weet watter prosedures gevolg moet word.
Hierdie week het ek ook nog lesaanbiedings vir Wiskundige Geletterdheid gehad. Ek het al hoe meer selfvertroue begin bou en ek verbeter in terme van klas kontrole. Ek het dit moeilik gevind om klaskamer beheer uit te oefen weens leerders se dissiplinere probleme. Ek probeer werk aan die kritiek vanaf die opvoeder en gebruik dit om my onderrigstyl te verbeter. Met die aanloop van elke lesaanbieding probeer ek die leerders gefokus te kry deur 'n alledaagse onderwerp van hul belangstelling te verbind met die inhoud van die les om sodoende hul belangstelling te verdiep. Ek neem waar dat leerders meer gefokus is op die les en dit dra by dat hul die aktiwiteit met ywerig uitvoer en as 'n uitdaging beskou. Met verloop van tyd kan ek waarneem dat ek beter beheer het oor die leerders en dat ek in beheer voel van die onderriggebeure. Tydens die verloop van die lesaanbieding het ek waargeneem dat sommige leerders die aktiwiteit baie maklik vind en ander het nie 'n idee gehad wat om te doen nie. Ek kon my probleemareas identifiseer en ek besef dat ek moet meer fokus op leerders se voorkennis en stelselmatig bou tot die ontlokking van nuwe kennis. Ek het ook besef dat voorkennis en nuwe kennis kan nie afsonderlik behandel word nie, maar dit maak 'n integrale deel van mekaar uit en moet volgens diktatiese onderrigswyse aan die leerders bekend gestel word. Sodoende kan ek dan verseker dat al die leerders in die klas dieselfde agtergrond van kennis het en weet wat van hulle verwag word. As opvoeder het ek defnitief gegroei en ervaar ek 'n verbetering in my onderrigstyl. Ek begin al hoe meer verduidelik na gelang van die klas se potensiaal en nie net na gelang van sekere leerders se potensiaal nie.
PGCE#TeachingPrac#2015_Reflection_week 7_31 August-4 September_Schoonspruit Secondary School
Hierdie week was ek deur die dosente ge-evalueer vir Wiskundige Geletterdheid en Fisiese Wetenskappe. Alhoewel die uitkomste van die lesaanbiedings vir beide vakke goed afgeloop het, was ek baie gespanne met die aanloop van die lesaanbieding vir Wiskundige Geletterdheid. Ek dink die feit dat ek bewus was dat ek ge-evalueer word het grootliks bygedrae tot die senuweeagtigheid,maar ek het meer gemakliker geraak met die verloop van die lesaanbieding. 'n Positiewe aspek van die lesaanbieding was dat die graad 12 Wiskundige Geletterdheid klas uit 16 leerders bestaan en ek kon individuele aandag skenk aan elke leerder binne groepsverband. Ek het besef dat leerders 'n beter begrip het van wat van hulle verwag word indien jy as opvoeder die instruksies en die probleem weer saam leerders lees en aan hulle verduidelik. Tydens die verloop van die les het ek waargeneem dat leerders dit moeilik gevind het om die inligtingstabel te interpreteer, aangesien hulle nie die opskrifte en vrae deeglik lees nie. Ek het ook waargeneem dat die leerders wie se aandag afleibaar is vinniger werk as die res van die klas en die aktiwiteit voltooi het voor die res van die klas. Ek beskou dit as 'n tegniek om te werk en te gesels terselfde tyd. Dit was vir my aangenaam om te sien dat leerders die vertroue geneem het om my te raadpleeg indien hul vashaak met die probleem. Die negatiewe aspek van die lesaanbieding was die korter periodes en sommige van die leerders het nie heeltemal klaar gekry met die aktiwiteit nie. Ek het dit baie geniet om die Wiskundige Geletterdheid les aan te bied, aangesien leerders hul samewerking gegee het en deelgeneem het aan die klasgesprek. Ek het verwag dat die leerders die aktiwiteit kon uitvoer, omdat dit eintlik as 'n hersienning les dien vir die graad 12's. Soos ek verwag het, kon meeste leerders die aktiwiteit uitvoer.
Die lesaanbieding vir Fisiese Wetenskap het baie beter afgeloop as vir Wiskundige Geletterdheid. Dit was vir my 'n riem onder die hart om waar te neem hoe die leerders interaksie toon met die leerstof en aktief betrokke was by die lesaanbieding. Die leerders was ywerig om die aktiwiteit te voltooi en ek het waargeneem dat daar gesonde onderlangse kompetisie ontstaan tussen die leerders in die klas. Ek het leerders aktief betrek by die les deurdat hulle die antwoorde op die bord doen. Die leerders was ook nie in staat om die aktiwiteit in die klaskamer te voltooi nie weens die kort periodes, maar ek het dit as tuiswerk gegee om te voltooi. Dit was vir my moeilik om individuele aandag te skenk aan leerders, aangesien dit 'n groot klas is. Ek het die leerders in groepe verdeel sodat elke leerder die aktiwiteit individueel voltooi binne groepsverband. Leerders leer die vermoë aan om opdragte individueel uit te voer asook binne groepsverband. Die positiewe aspek van die lesaanbieding was die samewerking wat leerders getoon het en die deelname aan die klasgesprek. Ek moes op die ou einde klas kontrole handhaaf as gevolg van leerders se gewilligheid. Ek was baie meer gemakliker met die aanbieding van Fisiese Wetenskappe as met Wiskundige Geletterdheid. Ek het die les so baie geniet dat dit voel die tyd het gevlieg. Ek kon aan die leerders se gewilligheid sien dat hulle ook die les geniet het en selfs die leerders wie se aandag afleibaar is, het die meeste samewerking getoon. Na afloop van die Fisiese Wetenskap lesaanbieding het ek waargeneem dat leerders dit moeilik gevind het om die stroombaan kringdiagram van 'n gekombineerde serie- en parallelle skakeling te ontleed. Leerders het 'n goeie agtergrond oor die onderwerp gehad en kon hul voorkennis toepas om die stroombaanprobleem op te los. Ek het ook waargeneem dat sommige leerders vinniger werk as die res van die klas en daarom het ek 'n ekstra probleem as uitdaging by die aktiwiteit ingevoeg en ook 'n bonusvraag. Ek het meer aandag geskenk en leiding gegee aan die leerders wat dit moeilik gevind het om die aktiwiteit uit te voer, terwyl ek kort-kort seker gemaak het oor die res se vordering met die aktiwiteit.
Afgesien van die lesaanbiedings, was die skool in rep en roer die week. Die leerders het 'n nuwe speletjie agtergekom genaamd "Charlie Charlie". Hierdie speletjie veroorsaak ontwrigting in die klasse waarvan die opvoeders geen beheer het nie. Dit is vir my so snaaks dat leerders eintlik 'n groot vrees vir die speletjie het, maar tog so nuuskierig is om dit te speel. Ek neem waar dat hierdie speletjie baie meer gewild onder die jonger grade is nl. die graad 8-10's. Die graad 11 en 12 leerders is baie meer volwasse en het nie 'n behoefte daaraan om dit te speel nie. Gelukkig het die Fisiese Wetenskap klasse nie vir hulle opgehou met die speletjie tydens klas nie, aangesien die opvoeder goeie klas kontrole toepas en leerders nie sommer kanse sal vat nie, terwyl die leerders in ander leerareas uit die klasse gehardloop het en ander klasse ontwrig het. Ek neem waar dat leerders die opvoeder(s) se reaksie uitlok deur die klasse te ontwrig d.m.v die "Charlie-Charlie" speletjie. Dit blyk dat dit ekstra moeilik is om leerders op 'n Vrydag te beheer. Daar heers 'n opgewondenheid onder leerders en 'n traak-my-nie houding. Dit is vir my kommerwekkend hoe leerders nie op 'n Vrydag wil werk nie en ek neem waar dat daar 'n onrustigheid heers binne die klaskamers. Die uitdaging is dus om leerders gefokus te kry en hul te motiveer om te werk tot die einde van die dag. Ek dink dit gaan ook 'n groot uitdaging wees wat ek as opvoeder in die gesig gaan staar wanneer ek in die praktyk is.
Die matrikulante het ook Vrydag met hul Nasionale September eksamen begin. Dit was vir my kommerwekkend om te sien hoeveel matrikulante nie skool bygewoon het hierdie week nie. Die opvoeders het hersienning gedoen of die laaste afronding van werk gedoen. Leerders kan nie geforseer word om skool by te woon nie, maar ek dink daar moet riglyne in plek gestel word wat leerders motiveer om skool by te woon. Dis altyd die leerders wat goed wil vaar wat ten alle tye by die skool is en binne die klaskamer. As opvoeders moet ons nie net konsentreer op die leerders wat wil werk nie, maar 'n motivering wees vir die leerders wat nie hou van werk nie of laks is om te werk. Ek het waargeneem tydens my waarnemingsklasse met die graad 12's dat die leerders wat nie hou van werk nie, kort net bietjie motivering van hul opvoeders. Ek besef dat dit belangrik is om vir jou leerders te wys dat jy glo in hulle en dat jy 'n ondersteuningsmeganisme is vir hulle binne en buite die vakgebied.
Wednesday, 2 September 2015
PGCE#TeachingPrac#2015_Reflection_week 6_24 August - 28 August_Schoonspruit Secondary School
Die week van 24 - 28 Augustus was 'n baie stil week by die skool. Die matriekulante was besig met kontrole toetse wat aanleiding gegee het tot langer register-periodes en korter klasperiodes. Na afloop van die week, het ek baie lesse aangebied vir Fisiese Wetenskappe. Dit is vir my aangenaam om met die Fisiese Wetenskap klasse te werk, omdat hierdie leerders hardwerkend is en belangstelling toon in die vakgebied alhoewel sommiges nie akademies sterk daarin presteer nie. Die grootste probleem of uitdaging wat ek in hierdie vakgebied ondervind, is dat leerders baie stadig werk. Ek bereik nie my lesdoelwitte en uitkomste nie. Ek het al aanpassings gemaak soos om my les te verkort. Ek het ook gesien dat dit beter is, indien moontlik, die konsepte en inhoud te verduidelik in die vorm van sketse op die bord sodat leerders die leerstof vinniger kan begryp as wat hulle moet luister na baie informasie en dit terselfde tyd moet prosesseer. Ek probeer werk aan oplossings om leerders aan te moedig om vinniger te werk soos blitstoetse op te stel waar leerders 'n aantal vrae in 'n sekere tyd moet voltooi. Die voordeel van blitstoetse is dat leerders die dag se werk gaan leer wat ek met hulle behandel het en so word die inhoud van konsepte vasgelê. Dit bevorder ook leerders se skryftegnieke en forseer hulle om te leer, aangesien daar nie tyd is om te dink oor die antwoord nie.
Tydens my internskap, sien ek hoe belangrik dit is om verskillende onderwysmetodes toe te pas. Ek het waargeneem dat leerders hou van aktief betrokke wees by die leerstof en deel te neem aan klasgesprekke. Die feit dat klasgesprekke leerders intellektueel stimuleer kom sterk navore. Ek besef ook dat leerders hou van in groepe werk en sommiges individueel, daarom is dit van kardinale belang om verskeie onderwysmetodes in een lesaanbieding toe te pas. Wat vir my as 'n Fisiese Wetenskap opvoeder van belang is in my vakgebied, is dat leerders die teorie in verband moet bring met die werklikheid. Laasweek het ek hersienning gedoen op elektriese stroombane en die komponente van elektriese stroombane en dit was vir my 'n riem onder die hart toe die leerders 'n werklike stroombaan op pen en papier kon voorstel. Ek het ook besef dat die tipe verhouding wat jy met die leerders bou het 'n groot invloed op hul akademiese prestasie. Die leerders is nou baie meer gewillig om saam my te werk as aan die begin van my internskap, aangesien ons mekaar beter ken en 'n goeie verstandhouding gebou het vanaf dag 1.
Na afloop van my lesaanbieding vir die graad 10 Fisiese Wetenskap klasse, het ek waargeneem dat die een klas die konsepte vinniger begryp as die ander klas. Dus, moes ek verandering aangebring het aan die aanbieding van my les en die manier waarop ek die inhoud fasiliteer. In plaas daarvan om net te aanvaar dat dieselfde onderrigmetode vir beide klasse sal werk, moes ek gebruik maak van verskillende onderwysmetodes om vas te stel watter metode beter werk vir watter klas.
Daar is 'n groot verskil tussen die graad 12 Wiskundige Geletterdheid klasse en die graad 10 klasse. Ek het verwag dat ek dieselfde houding onder die graad 12's sal waarneem, maar inteendeel is dit die teenoorgestelde. Die graad 12 Wiskundige Geletterdheid klasse toon meer belangstelling in die vak as die graad 10's. Hulle is hardwerkend en dit is duidelik dat hul interpretasie as 'n tegniek bemeester binne die vakgebied. Wat opmerkend was vir my as opvoeder in die graad 12 klasse, is dat die leerders wie se aandag afleibaar is gewoonlik vinniger werk as die res van die klas en hul antwoorde die mees korrekste is. Ek kan dus nie vasstel of hul die aktiwiteite te maklik vind nie en of hul van daardie tipe leerders is wat kan werk terwyl hulle gesels, aangesien ek nie kennis dra van hul akademiese prestasies nie. Die uitdaging met graad 10's is dat meeste van hierdie leerders se aandag afleibaar is. Ek probeer nog oplossings vind om die leerders gefokus te kry deur die wiskunde toe te pas in alledaagse onderwerpe waarin hul belangstel soos musiek. Daarom kan ek die afleiding maak dat hul geen belangstelling toon in die vakgebied nie, nie net omdat ek waarneem dat hulle aandag afleibaar is nie, maar ook omdat ek kennis dra van hul akademiese uitslae.
Ek besef dat dit van kardinale belang is om entoesiasties te wees oor jou vakgebied en die aanbieding van jou les so interessant as moontlik te maak om leerders se belangstelling in die vak te verdiep. Dit moet vir leerders lekker wees om wiskunde te doen eerder as om vir hulle te forseer om deel te neem. Ek let ook op dat beter uitslae verkry word wanneer leerders uit eie wil wil deelneem aan klasaktiwiteite as wat hul forseer word om die oefeninge uit te voer. Die uitdaging wat ek in die oë staar is hoe om leerders tot by die punt te kry om uit eie wil deel te neem aan die klasaktiwiteite en leerstof wat aan hul gebied word eerder as om hul te forseer om hul werk te doen. Dis goed en wel dat leerders hoë verwagtinge vir hulself skep, maar alles moet nie om punte en uitslae draai nie. Ek voel ons moet leerders se denke rig daarop om uit hul foute te leer as wat dit gefokus is om hoë punte te behaal.
Wednesday, 26 August 2015
PGCE#TeachingPrac#2015_Reflection_week 5_17 August - 21 August_Schoonspruit Secondary School
Ek voel alreeds of ek in die skoene van 'n voltydse permanente opvoeder staan. As ek terug kyk na dag 1, kan ek waarlik se dat ek myself goed aanpasbaar gemaak het in die konteks waarin ek myself bevind en voel ek dat ek deel uitmaak van die skool se opvoeders. Aan die begin van my internskap het ek die tydperk om gewens, maar nou loop die tyd bietjie te vinnig na my sin en wil ek nie he dit moet tot 'n einde kom nie. Die leerders maak elke dag die moeite werd en jy sal dit net verstaan as jy dit self ervaar. Die liefde wat jy as opvoeder ontwikkel vir jou klasse en die ander leerders is onbeskryflik. My passie vir onderwys as professie het baie verdiep vandat ek in die praktyk is. Ek was angstig, verlore en het nie geweet wat om te verwag nie, maar nou weet ek onderwys is die beste opsie ooit wat enige een kan kies as professie. Die respek wat leerders ontwikkel vir jou as opvoeder, die feit dat daar na jou opgekyk word en na jou uitgereik word as 'n ondersteuningsmeganisme maak onderwys genotvol bo jou verwagtinge wat jy eers vir jouself geskep het.
Na 5 weke by Schoonspruit Sekondere skool, het ek min of meer 'n idee wat die rol van 'n opvoeder behels. Hiermee verwys ek na al die administratiewe pligte wat gepaard gaan met onderwys. Na afloop van hierdie week het ek besef dat die rol van die opvoeder nie net akademies gerig moet wees nie, maar ook moet fokus op die sielkundige en sosiologiese aspekte van onderrig. Ek het dit eerstehands ervaar toe een van die leerders se ouer my inlig oor die huislike omstandighede van die leerder. Dit was weereens 'n bewys dat die leerders se persoonlike omstandighede 'n bydrae lewer tot hul gedrag binne die klaskamer. Ek vind dit baie oorweldigend dat ek alreeds tydens my internskap in aanraking kom met die sielkundige en sosiologiese probleme van leerders. Terselfde tyd leer ek hoe om die sosiologiese uitdagings in die gesig te staar binne 'n akademiese instansie en weet ek nou watter prosedures om te volg in die toekoms.
Alhoewel onderwys sy positiewe punte het, ontstaan die negatiwiteit ook. Hierdie week het 'n leerder uit een van my gunsteling klasse my verskriklik geirriteer. Daar was konstant onderlangse geluide gemaak, maar ek het dit geignoreer. Ek was eintlik bang om haar aan te spreek weens haar arrogante houding wat sy daagliks teen oor haar eie opvoeder toon. Ek dink sy het probeer reaksie uitlok om te kyk hoe ek sal optree as sy my gaan irriteer. Ek het probeer kalm bly die hele periode lank alhoewel dit hier binne my gekook het. Ek besef ook dat 'n leerder moet aangespreek word indien hy/sy die klas ontwrig ongeag hoe die leerder daarop sal reageer en of dit haar persepsie oor my as opvoeder gaan verander. Ek dink my grootste vrees is dat ek nie skade wil doen aan die goeie verhoudings wat ek saam die leerders gebou het nie. Dit wil voorkom of die dissipline van die graad 10 Wiskundige Geletterdheid klasse by die dag vererger. Alhoewel die leerders ontwrigtende gedrag toon tydens klas, gee ek nog steeds om vir hulle. Ek is eintlik baie meer lief vir hulle as al die ander klasse, omdat al die opvoeders van hulle kla en negatief posisioneer in die skool. Alhoewel hierdie klasse dissiplinere probleme toon, het elkeen van hulle groot respek vir my en dit waardeer ek.
Die hoogtepunt van hierdie week was die matriekafskeid. Vir die eerste keer na my eie matriekafskeid in 2010, het ek die matriekafskeid van Schoonspruit Sekondere skool as 'n opvoeder bygewoon. Dit was interdaad 'n ander gevoel, want vandag sit ek om die tafel met dieselfde mense wat eens op 'n tyd my opvoeders was. Dit is vir die ander opvoeders 'n riem onder die hart om te sien hoe ons as proef-studente belangstelling toon in die sosiale aangeleenthede van die skool asook betrokke is by buitemuurse aktiwiteite en nie net daar is vir ons eie akademiese doeleindes nie. Ek het terug verlang na my matriek-jaar en sosiale aangeleenthede soos die matriekafskeid en kultuuraande is wat ek die meeste verlang van my skooldae. Ek het waargeneem dat die matriekulante baie onrustig was tydens die toesprake en dit is kommerwekkend om te sien hoe vroeg die leerders die matriekafskeid verlaat om te gaan kuier ("afterparty" te hou). Uit die oogpunt van 'n opvoeder, dink ek dat die matriekafskeid is 'n mors van geld en dat 'n gradeplegtigheid in plek daarvan ingestel moet word.
Saturday, 15 August 2015
PGCE#TeachingPrac#2015_Reflection_week 4_11 August-14 August_Schoonspruit Secondary School
"Time flies when you having fun". Vier weke van my onderwys internskap te Schoonspruit Sekondere Skool is al verby en ek het elke oomblik geniet tot so ver. Alhoewel ek nog net n gedeeltelike gevoel het van wat onderwys behels, sien ek uit na die voltydse toepassing van onderwys as professie. Hierdie week het ek my derde les vir Wiskundige Geletterdheid aangebied. Hierdie keer het ek n gr. 12 klas gekies om my les aan te bied. Weereens het ek waargeneem dat die gr. 12 Wiskundige Geletterdheid leerders beter dissipline handhaaf as die gr. 10's en 11's. Ek het meer in beheer gevoel en kon beter klas-kontrole toepas as in my vorige aanbieding. Ek het dit makliker gevind om met die graad 10's te kommunikeer as met die graad 12's, maar dit was moeiliker om die graad 10's gefokus te kry. Die graad 12's oefen selfdissipline uit, terwyl die graad 10's nog gedissiplineer moet word. Tydens die aanbieding van my les het ek besef dat dit belangrik is dat jy as opvoeder moet seker maak dat die leerders verstaan wat van hulle verwag word, dat hulle die vrae van die aktiwiteit verstaan asook die konsepte wat na vore kom in die aktiwiteit. Ek het verwag dat leerders nie die aktiwiteit sal verstaan en voltooi nie, maar die teenoorgestelde het gebeur na afloop van die les. Die leerders kon die aktiwiteit baas raak met n bietjie leiding van my. Ek was so trots op hulle daardie oomblik. Ek dink elke opvoeder moet dit vir homself/haarself beleef wanneer n leerder jou bo jou verwagtinge verras. Dit laat jou hart en gesig blom. Ek het ook opgelet dat 2 seuns se aandag afleibaar is, alhoewel hulle eerste klaar was met die aktiwiteit. Nadat ek self-ondersoek ingestel het, kom ek tot die gevolgtrekking dat daar nooit verwagtinge tydens n les geskep moet word nie, maar altyd voorsienning gemaak word vir leerders wat vinniger werk as die ander leerders om hul ten alle tye gefokus te he. Ek het ook besef hoe belangrik dit is om aktiwiteite op te stel na gelang van die groeppotensiaal en nie net altyd wat die KABV verwag van die groep nie. Ek self neem waar dat daar enorme vordering in my lesaanbiedings is. Ek het verbeter op die toepassing van klas-kontrole. Ek het nie net aanvaar leerders weet als wat hul veronderstel is om te weet nie, maar ek het eers seker gemaak leerders is bekend met die wiskundige konsepte wat in die aktiwiteit voorgekom het. Die klein getal leerders in die klas het n voordelige uitwerking gehad op my aanbieding van my les en ek kon individuele aandag gee binne groepsverband en die probleemareas vinniger aanspreek.
My betrokkenheid by die skoolkoor maak nie meer deel uit van die verpligte buitemuurse aktiwiteite nie, maar omdat ek dit baie geniet. Ek oefen saam die leerders en luister na probleemareas, maar mees belangriker, ek bou verhoudings op met die leerders wat ek nie elke dag in kontak kom nie. Ek begin leer hul ken op n meer persoonlike vlak. Ek kom agter dat jy leerders beter hanteer indien jy hul op n meer persoonlike vlak ken en leerders respekteer n opvoeder meer as die opvoeder belangstelling toon in die leerder. Die gevoel was oorweldigend, maar tog vol blydskap toe n leerder vir my se dat ek vir haar soos n tweede ma is. Ek is so jonk en n leerder sien my as n ma-figuur, dan kan jy mos nie help om net meer lief te word vir hulle nie. Ek moet byvoeg dat ek baie van hierdie leerders jammer kry, want baie opvoeders posisioneer die leerders in n negatiewe lig a.g.v. hul ontwrigtende gedrag, maar eintlik verlang hul net aandag en iemand wat omgee.
Aan die ander kant voel ek dat die graad 10 Fisiese Wetenskap klasse bietjie te gemaklik raak met my, maar hul het nog steeds soveel baie respek vir my. Die leerders begin vat kanse as hul opvoeder nie teenwoordig is nie en ek die klasse moet waarneem. Ek het beheer oor hierdie klas, ongeag die groot getal leerders in die klas, en ek wens dat my Wiskundige Geletterdheid graad 10 klasse ook net so kan luister as ek met hulle praat. Hierdie leerders het selfdissipline en vra onverskoning as ek hul optrede aanspreek. Ek vind dat die graad 10 klasse baie aandag verlang en soms jou reaksie uitlok om aandag te verkry. Ek het geleer dat dissiplinere probleme nie n faktor sal wees indien jy n verhouding bou met die leerders waar hul sien dat jy omgee nie en net die beste vir hul wil voorsit nie.
Laastens voel ek dat ek nie baie uitgedaag word met vrae nie. Leerders vra weinig vrae wat verband hou met die werk in die praktyk of industrie. Vir die eerste keer hierdie week het n leerder vir my n vraag gevra waarop ek die antwoord nie weet nie. Ek het dit met alle eerlikheid hanteer en leerders laat verstaan dat ek weet nie als nie. Hulle was verbaas op my antwoord en ek dink die leerders kon by my leer dat dit okay is as jy nie verstaan nie, dat dit okay is as jy nie weet nie. Ek dink ook nie dat hul my as onbevoegd sien nie, maar dat hulle meer besef het dat ek ook in n leerproses is. Ek kon dus die tablet gebruik binne die klaskamer en die antwoord op die vraag gaan opsoek en vir die leerders n beter verduideliking gee oor die onderwerp wat self onbekend aan my is. Weereens was dit vir my n bewys dat as opvoeder kan ek self baie van leerders leer en nie net anderste om nie. Ekt besef dat ek ten alle tye die lewe en die skool as instansie as n leerproses moet sien eerder as n opvoeder wat die bron van inligting is. Ek sluit af dat ek baie wysheid op doen soos ek elke dag met kinders in interaksie kom, sommige dae het meer uitdagings as ander, maar die tydperk kan n fees wees as jy altyd die positiewe in die negatiewe sien.
Tuesday, 11 August 2015
PGCE#TeachingPrac#2015_Reflection_week 3_3 August-7 August_Schoonspruit Secondary School
Soos dit landswyd bekend is dat die week van 3 Augustus tot 8 Augustus 2015 Nasionale Wetenskap week is,het die Fisiese Wetenskap en Lewenswetenskap leerders van Schoonspruit Sekondere skool ook nasionale wetenskap week ervaar by die skool. Maandag, 3 Augustus 2015, het ek en die Fisiese Wetenskap onderwyser die huidige werk prakties ondersoek. Ons het eers gefokus op die graad 10's en hul is tans besig met magnetisme. Nadat die opvoeder die inhoud van magnetisme behandel het, het ons fisies gaan kyk hoe die magneetveldlyne lyk van gelyksoortige en ongelyksoortige pole. Die leerders was gefasineerd deur die praktiese ondersoek en het baie vrae gehad betrekking tot die ondersoek en hoe dit verband hou met die teorie. Dit was duidelik dat die praktiese ondersoek die leerders se gedagtes geprikkel het en hul belangstelling in die teorie van magnetisme verhoog het. Na afloop van die praktiese ondersoek en die leerders se houding teenoor die werk nadat hulle self waargeneem het hoe magneetveldlyne lyk, dink ek dis n goeie idee om die teorie prakties voor te stel. Ek het waargeneem dit het n positiewe uitwerking op leerders se houding teenoor die inhoud daarvan en dit verdiep hul belangstelling. As toekomstige opvoeders moet ons in gedagte hou dat leerders leer verskillend, so dis beter om verskillende onderwysmetodes toe te pas om elke leerder se leerbehoeftes te akkomodeer. Dit het duidelik na vore gekom tydens hierdie praktiese ondersoek. Die negatiewe aspek hiervan is dat die skool nie altyd die geriewe het om die inhoud prakties voor te stel nie en as opvoeder beperk dit jou om die teorie doeltreffend te fasiliteer. Die ander nadeel is dat dit baie tydgedrewe is en die KABV streng toegepaste tyd voorskryf aan elke onderwerp. Dus, is daar nie altyd tyd om eksperimente uit te voer, terwyl dit grootendeels leerders se begrip verdiep. Dit was vir my kenmerkend hoe leerders weer die teorie gaan op lees het. Ek hou daarvan hoe die opvoeder ander vakke se inhoud soos Aardrykskunde en Biologie by die inhoud van Fisiese Wetenskap aansluit en alledaagse voorbeelde gebruik om die konsepte van chemie uit te lig. Ek dink dit sal vir my n uitdaging wees in die praktyk, alhoewel ek my inhoud ken, is ek nie baie bekend met die toepassing daarvan nie. Ek besef dat ek baie moet gaan op lees oor die toepassing van chemie in die praktyk, veral dit wat betrekking het op die vereiste inhoud in die KABV. Hierdie praktiese ondersoeke help leerders vaardighede aanleer soos die gebruik en lees van n kompas.
Ek het ook toesig gehou in n juffrou se plek wat afwesig was en wat vakke aanbied buite my kurrikulumvakke/veld. Ek was toe verplig om die graad 10 Lewenswetenskap klasse waar te neem. Alhoewel ek in die diep kant gegooi was, kon ek my biologie kennis toepas om hierdie les waar te neem. Soos ek voorheen genoem het, neem ek waar dat die skool meestal dissiplinere probleme ondervind by die graad 10's. Dit is vir my onaangenaam om hierdie klasse waar te neem, want die leerders praat onophoudelik en luister nie as daar met hulle gepraat word nie. Dis eintlik hartseer dat ek dit nie geniet om die graad 10's klas te gee nie, aangesien ek aan die begin van die proeftydperk baie van hulle gehou het en goed oor die weg gekom het en hulle die meeste interaksie getoon het met my en die leerstof as die graad 11's en 12's. Nou is die posisies omgeruil en die graad 11 en 12 klasse toon beter interaksie en ek bou goeie verhoudings met hierdie klasse. Ek voel nog steeds asof ek nie die graad 10's kan beheer nie, maar slegs die wiskundige geletterdheid klasse. Die Fisiese Wetenskap klasse is te oulik en ekt n groot liefde ontwikkel vir hierdie klasse (van graad 10-12). Nie dat ek die ander graad 10 Wiskundige Geletterdheid klasse nie lief het nie, maar ek raak moedeloos. Die graad 10's hou van persoonlike vrae vra en gesels oor dinge wat niks verband hou met die leerstof nie. Ek voel dat ek moet begin ferm wees met die leerders, maar wys ek gee om terselfde tyd. Ek besef ek moet my manier van klas gee verander, aangesien ek te vriendelik is teenoor die leerders. Alhoewel ek moedeloos is, hou ek nie op om die graad 10's te motiveer en te bemoedig nie. Ek besef dat dit vir my n uitdaging gaan wees om leerders met dissiplinere probleme aan te spreek, alhoewel ek nog nie die outoriteit het om die skool se gedragsmaatreels toe te pas nie. Hierdie proeftydperk sien ek nie net as n leergeleentheid nie, maar dit voel alreeds of ek al my professie as onderwyser beoefen. Ek geniet dit vreeslik ongeag die uitdagings soos leerderdissipline en die swak slaagsyfer. Dit gee my die moed om n verskil te maak en n motivering vir ander te wees.
Die buitemuurse aktiwiteite laat my verlang na my skooldae. Ek mis dit om koor te sing en om betrokke te wees by die skoolkoor gee my meer perspektief oor leerders se gedrag binne die klaskamer en buite die klaskamer en hoe dit in strook staan met mekaar. Tydens kooroefening is die verhouding tussen my en die leerders meer informeel, terwyl dit tydens skooltye bietjie meer formeel is. Hiermee wil ek byvoeg dat ek elke dag sien as n tweede kans. Met ander woorde, as n leerder ontwrigtende gedrag toon, gaan ek nie die leerder kenmerk in n negatiewe lig nie, maar elke dag n nuwe kans gee. Dis wat ek huidiglik waarneem onder die opvoeders. As n leerder net eendag ontwrigtende gedrag toon, word daardie leerder gekenmerk in n negatiewe lig. My omgee vir leerders verdwyn nie ongeag hulle gedrag. My hart het oorgeloop van blydskap toe n leerder, wat ontwrigtende gedrag toon, vir my se dat ek vir haar soos n tweede ma is. Dis snaaks hoe baie leerders van jou as opvoeder dink en hoe hoog hul jou ag as jy hulle hanteer met die regte houding.
Vrydag, 7 Augustus 2015, was die hoogepunt van my week. Ek moes die gr. 10 Fisiese Wetenskap klas, 1 gr. 11 leerder en een gr. 12 leerder vergesel na die Nasionale Wetenskap vasvrae kompetisie te Moorreesburg. Omtrent 15 hoerskole in die Weskus Distrik omgewing het aan die Wetenskap vasvrae kompetisie deelgeneem. Alhoewel Schoonspruit Sekondere Skool nie onder die top 3 skole geeindig het nie, was ek trots om te sien dat ons die skool was met die meeste ondersteuning. Die leerders het hul puik gedra en dit was vir my n riem onder die hart om te sien hoe baie leerders in Fisiese Wetenskap belangstel. Meeste van hierdie leerders het n visie vir die toekoms en dit maak my bly en ek besef dis hierdie klein dingetjies wat onderwys die moeite werd maak. Soos tyd verloop begin ek hierdie professie al hoe meer waardeer. Nadat die Wetenskap aangeleentheid klaar was, het ek in n restaurant saam die leerders gaan sit. Die een leerder het vir hom kos bestel, terwyl hy weet hy het nie genoeg geld nie. Nadat hy klaar geeet het, het hy my kom vra vir geld en om hom uit te help. Ek het dit eintlik baie snaaks gevind daardie moment, maar dan besef ek die leerder is so gemaklik om na my toe te kom en vir my te vra om hom uit te help, maar aan die anderkant kan hy net sowel dit tot sy voordeel gebruik. Nietemin, ek vind berusting daarin om ander te help, aangesien ek nie altyd bewus is van die leerders se huislike omstandighede nie. Met tyd raak ek al hoe meer opgewonde om n opvoeder te wees, daar is so baie leerders wat ek wil help en wil bystaan. Ek was nog altyd lief vir kinders, ekt net nooit besef hulle sal so diep in my hart kruip nie.
Subscribe to:
Posts (Atom)